Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Spesialis in die ontleding van selfoonrekords, ao. Anna-Marie van Niekerk, het die week begin getuig in die moordverhoor van Preston Titus.
Dit volg na die kruisondervraging van Sixabiso Klip, die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is verlede Donderdag klaargemaak het.
Laaste kruisondervraging van Klip
Chris Morgan, Natasha Stuurman se prokureur, het tydens die kruisondervraging gesê dat Stuurman en Klip reeds van kinderdae af vriende is en dat hulle baie goed oor die weg kom. Volgens Morgan het hy Stuurman Klip gehelp om die werk as drywer by Magdaleen Titus te kry.
Klip het tydens die kruisondervraging verduidelik dat hy 'n rukkie nadat hy by Titus begin werk het, 'n lid van die ANC, Cheslin Mostert, ontmoet het en hy aan Klip gevra het of hy genoeg by Titus verdien. Klip het gesê dat hy steeds finansieel sukkel en Mostert het hom, volgens Klip se getuienis, aangestel en Klip het daarna 'n toelae van die ANC af gekry om as drywer vir Titus te werk.
Morgan het dit ook aan Klip gestel dat Stuurman bang was vir die vreemde mans wat in haar huis gebly het en dat Stuurman geweldig veiligheidsbewus is. Morgan het dit ook aan Klip gestel dat Stuurman nooit teenwoordig was by enige van die besprekings van die "beweerde beplande moord" nie.
Louise Luterer, MJ se regsverteenwoordiger, het dit aan Klip gestel dat haar kliënt aan 'n Christelike kerk behoort en dat hy nie in towerkuns glo nie. Volgens haar verwerp MJ ten sterkste die feit dat hy op enige stadium aan Klip voorgestel het om van towerkuns gebruik te maak om sy stiefma uit Oudtshoorn te dryf.
Ao. Anna-Marie van Niekerk in gesprek met Joey Nel voor die verhoor begin het. Foto's: Liezl van Niekerk
Selfoonrekords
Van Niekerk het Maandag begin om aan die hof die uiteensetting van die oproepe en SMS'e tussen Titus en die ander verdagtes voor die hof, Stuurman, Justice Mooi (die beweerde huurmoordenaar) en MJ te verduidelik. Volgens haar is daar nog een persoon, Elvis Galeboe, wie se selfoonrekords ook deur haar geanaliseer is.
Staatsadvokaat Christhénus van der Vijver, het aangedui dat Galeboe 'n getuie in die verhoor sal wees. Van Niekerk het 23 jaar diens in die polisie en spesialiseer in selfoonontleding. Sy het al in verskeie opspraakwekkende sake, soos die Rohde-moord en Hannah Cornelius-moord getuig waar sy ook die selfoonontleding gedoen het.
Volgens Van Niekerk bestaan dié tipe ontleding uit drie bene: die analisering van inligting, "plotting" (om te bepaal wie waar was volgens die selfoonseine) en die aflaai van inligting soos SMS'e.
Die getuienis van Van Niekerk het bestaan uit gedetailleerde dokumente waar sy die oproepe en SMS'e tussen die verdagtes gemerk het. Volgens die dokumente het Titus definitief kontak met al die verdagtes in die saak gemaak en was daar 'n defnitiewe toename in kommunikasie tussen haar en die verdagtes tussen 29 November 2017 en 1 Desember 2017.
Die rekords bewys egter dat daar op geen stadium kontak tussen Stuurman en Mooi was nie, maar dat daar baie kommunikasie tussen Stuurman en Galeboe was. Volgens Van Niekerk se ontleding kan daar ook gesien word watter verdagtes die aand van die moord in die omgewing van die weermagbasis was waar Preston vermoor is.
Mooi se selfoon het op 1 Desember 2017, die dag van die moord, by die weermagbasis gereflekteer en volgens die rekords het hy meer as een keer kontak met Titus gehad. Volgens die rekords het Mooi ook verskeie kere op 1 Desember met Klip kontak gemaak.
Van Niekerk se getuienis is gister en vandag voortgesit.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Moordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Week 3 van moordverhoor
- Weermagmoord: Titus sê Klip is meesterbrein
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
- Weermagmoord: Staat klaar met Klip
- Weermagmoord: Klip getuig in moordverhoor
- Weermagmoord: Dag 4 van weermagmoordverhoor
- Weermag-moordverhoor begin
- Dag 3 van weermagmoordverhoor
- Opvolg: Dag 2 van Weermagmoordverhoor
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'