OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sektor 3, het tans vakatures in hul GPF-komitee. Besigheidseienaars, skole, kerke en inwoners in die sentrale sakegebied van Oudtshoorn word genooi om betrokke te raak.
Die komitee wat deur die gemeenskap verkies word en wat op ’n vrywillige basis dien is aan die stuur met die plaaslike polisie se ondersteuning.
Die GPF opereer apolities en op statistiek van daaglikse gebeure en kommunikeer met ander rolspelers om te reageer op kriminele tendense en regstellings daarvan.
Die vergadering vind plaas op Dinsdag 5 Augustus om 17:30 op die vierde vloer van Oudtshoorn-polisie.
Die GPF is ’n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie en kan slegs ’n wesenlike verskil maak indien lede vanuit die gemeenskap inkoop by die inisiatief. Dit voorsien ’n platform vir inwoners om met die polisie te skakel om misdaad binne die gemeenskap aan te spreek. Deur gereelde vergaderings en samewerking poog die GPF om beter kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap te bevorder.
Deur saam te werk kan die polisie aandag gee aan kern misdaadkwessies binne die gemeenskap. Die GPF het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom. Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote te werk.
Alle organisasies, soos raadslede, nie-regerings organisasies, gemeenskapsleiers en kerkleiers word aangemoedig om by die GPF aan te sluit om ’n verskil in Oudtshoorn te maak.
Navrae kan gerig word aan die sekretaris by 081 259 7488 of stuur ’n e-pos aan smitraynard49@gmail.com
Vorige artikels:
- Weer nie 'n kworum nie
- Geen kworum by GPF-jaarvergadering nie
- Straatkinders, karwagte en prostitusie neem dorp oor
- Oudtshoorn Gemeenskaps Polisieringsforum moet vakatures vul
- GPF bespreek knelpunte
- Buurtwagte noodsaaklik
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’