OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) reik uit na die plaaslike gemeenskappe in Oudtshoorn om betrokke te raak by die noodsaaklike organisasie.
Hul nooi nuwe lede om aan te sluit in die kritieke inisiatief en vakatures te vul. Die GPF is 'n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie en kan slegs 'n wesenlike verskil maak indien lede vanuit die gemeenskap inkoop by die inisiatief. Dit voorsien 'n platform vir inwoners om met die polisie te skakel om misdaad binne die gemeenskap aan te spreek.
Deur gereelde vergaderings, en samewerking poog die GPF om beter kommunikasie te bevorder tussen die polisie en die gemeenskap. Deur saam te werk kan die polisie aandag gee aan kern misdaadkwessies binne die gemeenskap.
Die GPF het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom. Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote te werk.
Alle organisasies, soos raadslede, nie-regerings organisasies, gemeenskapsleiers en kerkleiers word aangemoedig om aan te sluit om 'n verskil in Oudtshoorn te maak.
Sluit aan by GPF
Persone wat belangstel om by die GPF aan te sluit kan die nodige aansoekvorms by ao. L Claassen (sosiale misdaadvoorkoming: Oudtshoorn) afhaal by kamer 8 by die Oudtshoorn-polisiestasie. Kontak Claassen voor 11 Oktober, gedurende kantoorure by 044 203 9025 of 079 460 9511. Tans is alle posisies op die GPF vakant en moet dringend gevul word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’