OUDTSHOORN NUUS _ Die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Donderdagmiddag, 26 September, by Oudtshoorn-polisiestasie vergader en is belangrike knelpunte bespreek.
Misdaadverslag
Tydens die verslag is daar genoem dat misdaad tans 'n tendens in die middedorp is.
"Geweldsmisdaad soos aanranding en gesinsgeweld word gereeld aangemeld. Kubermisdaad is 'n groot kopseer en moet inwoners hul weerhou om aanlyn aankopies te doen wat verdag voorkom, veral bejaardes moet versigtig wees."
Heelwat dwelm arrestasies is gemaak en is daar ook 'n toename in onwettige wapens, asook gesteelde goedere wat gevind word.
"Gemeenskapsleiers en inwoners moet betrokke raak by buurtwagte, asook die GPF om sodoende misdaad hok te slaan." Inwoners moet bedag wees vir die deurloop by die swaaibrug in Kerkstraat, heelwat rowe vind hier plaas, veral van selfone.
Bushokkies word verwyder
Goeie nuus vanaf Oudtshoorn-wetstoepassing is dat die sementbushokkies almal verwyder gaan word aangesien heelwat misdaad by die hokkies plaasvind, en misdadigers hier saamdrom.
GKTV-kameras
Volgens inligting deurgegee in die vergadering beoog die Oudtshoorn munisipale raad om meer geslotekringtelevisiekameras in die dorp op te rig. Die polisie is ten gunste hiervan aangesien die tegnologie die polisie se taak om misdadigers te arresteer sal vergemaklik.
Buurtwagte
Die noodsaaklikheid van 'n buurtwagstelsel kan nie genoeg beklemtoon word nie en moedig die polisie die gemeenskap aan om betrokke te raak.
Tans is daar 16 geregistreerde patrollie groepe in Oudtshoorn, maar is belangstelling en betrokkenheid bitter swak. 'n Buurtwag het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom. Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie en ander veiligheidsvennote te werk.
'n Buurtwag bestuur en koördineer misdaadvoorkomingsinisiatiewe om misdaad in 'n woongebied te ontmoedig. 'n Buurtwag is ook ten doel om 'n gemeenskap saam te bind deur 'n stabiele en misdaadvrye omgewing vir inwoners te skep.
Die volgende GPF vergadering vind plaas op Dinsdag 29 Oktober om 12:00 by Oudtshoorn-polisiekantore.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’