OUDTSHOORN NUUS - Straatkinders, selfaangestelde karwagte en kinderprostitute in Oudtshoorn is tans 'n groot kopseer vir inwoners en die gereg.
Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdagmiddag, 12 November, by Oudtshoorn-polisiestasie vergader om onder andere dié belangrike knelpunte te bespreek.
'n Lid, wat verkies om anoniem te bly, het die vergadering meegedeel hoe hy deur twee jong meisies van ongeveer 16 jaar agtervolg is tot in sy besigheid.
Toe hy hul vra of hy hulle kan help was die antwoord, "ons kan vir meneer oulik maak". Hy het die twee jong meisies summier uit sy besigheid weggejaag.
"Dit is kommerwekkend dat kinderprostitusie al hoe meer kop uitsteek in Oudtshoorn, dit is buiten die probleem met prostitute in Langenhovenweg."
Volgens die man het hy die Wes-Kaapse minister van sosiale ontwikkeling, Jaco Londt, hieroor gekontak en is daar bevestig dat hy daadwerklik hieroor gaan optree. Oudtshoorn Courant het ook ’n navraag aan Londt gestuur.
Esther Lewis, mediawoordvoerder van die departement sosiale ontwikkeling noem dat die departement en verskeie rolspelers besig is om 'n proses te implementeer wat 'n gemeenskapsgebaseerde ingrypingsplan insluit om aandag aan hierdie probleem te gee.
"Dit sluit in om gesprekke met die kinders te voer, om hul behoeftes te bepaal en dan individuele planne in plek te sit gebaseer op die uitkomste van die assessering."
Lewis sluit af deur te beklemtoon dat hierdie 'n kollektiewe aksie is wat verskeie departemente gaan insluit.
"Ons wil seker maak 'n holistiese benadering word gevolg om te verseker dat volhoubare intreding sal plaasvind."
'n Groot kommer wat tydens die maandelikse GPF uitgelig is, is dat die straatkinders en selfaangestelde karwagte tans heeltemal in beheer is van die dorp, veral die middedorp in Hoogstraat en moet dit onmiddellik aangespreek word.
Karwagte veral in Hoogstraat is meestal opdringerig, dronk of onder die invloed van dwelms.
Oudtshoorn-polisie maan ook inwoners om nie geld of kos vir straatkinders te gee nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’