OUDTSHOORN NUUS - Die noodsaaklikheid van 'n Buurtwagstelsel kan nie genoeg beklemtoon word nie. Tans is daar 16 geregistreerde patrollie groepe in Oudtshoorn, maar is belangstelling en betrokkenheid bitter swak.
'n Buurtwag het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom. Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote te werk, soos plaaslike wetstoepassing om misdaad in 'n gemeenskap aan te spreek.
'n Buurtwag bestuur en koördineer misdaadvoorkomingsinisiatiewe om misdaad in 'n woongebied te ontmoedig. 'n Buurtwag is ook ten doel om 'n gemeenskap saam te bind deur 'n stabiele en misdaadvrye omgewing vir inwoners te skep.
Gedragskode
'n Buurtwag is 'n geregistreerde organisasie wat verbind is tot 'n streng gedragskode vir buurtwaglede, asook spesifieke gedrag en pligte as dit kom by buurtwagpatrollie. Die polisie moet altyd bewus wees indien die buurtwag besig is met 'n patrollie; daar moet gestreef word om in vennootskap met die lede van die polisie, en munisipale wetstoepassing te werk ten opsigte van misdaadvoorkoming in die gebied. Alle wettige instruksies vervat in die gedragskode moet gehandhaaf word. Buurtwaglede moet duidelik sigbaar en geïdentifiseer kan word tydens patrollies.
Die plaaslike polisie moedig inwoners aan om betrokke te raak by die buurtwagstelsel sodat elke woonbuurt in die Groter-Oudtshoorn gebied 'n werkende buurtwag het om misdaadbekamping te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’