So het prof. Wium van Zyl, oudhoogleraar aan die Universiteit van die Wes-Kaap en voorsitter van die Van Ewijck-stigting, verlede Vrydag gesê toe dié organisasie se jaarlikse prestasieprys van R75 000 aan Hugo oorhandig is.
Hugo het die afgelope sowat ses jaar meer as vyftig boeke uit Nederlands en Vlaams in Afrikaans vertaal. Dit sluit in fiksie, nie-fiksie, digkuns en kinder- en jeugboeke in. Hy het ook verskeie bloemlesings saamgestel, wat 'n groot rol gespeel het in die belangrike Nederlandse digter Gerrit Komrij se samestelling van De Afrikaanse poëzie in 1 000 en enige gedichten. 'n Vorige erkenning vir Hugo se werk was die toekenning aan hom in 2014 van die vertaalprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die roman, Sprakeloos deur Tom Lanoye.
Hugo het in sy ontvangstoespraak erkenning gegee aan die rol wat die Van Ewijck-stigting speel om vertalers aan te moedig, maar ook vir die hoof van Protea Uitgewers, Nicol Stassen, wat die vertalings moontlik maak. Volgens Hugo, wat in 1983 tydens die kultuurboikot teen Suid-Afrika aan die Universiteit van Leuven gestudeer het, "kan daar nooit iets goeds kom uit enige kultuurboikot om politieke redes nie. Dit bereik niks. My studiejare in Europa was die voorloper vir my verbintenis vandag met die letterkunde van Nederland en België".