PRINS ALBERT NUUS - ’n Man (28) van Prins Albert, wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is in die streekhof op Oudtshoorn ’n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
Marchelle Tala is daaraan skuldig bevind dat hy 'n 13-jarige meisie die aand van 4 Maart 2017 seksueel aangerand het deur haar geslagsdeel en borste te betas.
Hy het onskuldig gepleit.
Die kind se moeder het egter getuig dat hy haar die volgende dag om verskoning gevra en gepleit het om die saak te laat vaar omdat hy dronk was en net met haar dogter gespeel het.
Streeklanddros Daniel Boks het Tala se weergawe verwerp en hom skuldig bevind.
Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en 24 maande korrektiewe toesig wat behels huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weerhou van die gebruik van alkohol en 16 uur per maand vrywillige gemeenskapsdiens verrig.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word en hy R500 vir skadevergoeding aan die klaagster betaal.
Lees 'n vorige artikel hier: Man voor vir betasting van minderjarige.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'