OUDTSHOORN NUUS - Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê sisteme vir nasionale kunstebefondsing in Suid-Afrika is gebroke.
Theart sê die KKNK ontvang reeds vir jare nie enige befondsing van die nasionale regering nie en ook nie van die nasionale departement van kultuursake en sport nie.
Die KKNK bestaan al vir dekades en bewys jaar na jaar wat die ekonomiese impak op streke is waar dit aangebied word.
"Die feeste skep duisende werksgeleenthede binne die kunstebedryf, maar ook nie-kunsverwante werksgeleenthede tydens die feestydperke binne die streke. Ons het die ondersteuning van nasionale regering nodig, nie net vir volhoubaarheid nie, maar met dié ondersteuning kan ons meer vermag. Die KKNK en ander feeste beskik reeds oor bestaande strukture wat katalisators kan wees en wat soveel meer kan vermag."
Theart sê daar is op die oomblik geen amptelike ooreenkomste of sisteme in plek om hierdie ondersteuning te fasiliteer nie. "Die sisteme vir nasionale kunstebefondsing in Suid-Afrika is gebroke, en ons versoek al vir jare drastiese ingryping. Die kunste moet deur nasionale regering ondersteun en bemagtig word."
Theart het gereageer op 'n navraag van Oudtshoorn Courant na aanleiding van wydverspreide ongelukkigheid in die kunsfeeswêreld oor befondsingsaansoeke wat afgekeur is.
Klatergoud
Die nasionale minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, word daarvan beskuldig dat sy departement etlike groot kunstefeeste in Suid-Afrika aan hul eie genade oorlaat te midde bewerings van politieke vooroordeel. Daar word beweer dat befondsing gegee word aan kunstenaars wat McKenzie se party, die Patriotic Alliance (PA), ondersteun.
McKenzie het in die spervuur beland na die paneel van die Mzansi Golden Economy (MGE) Fonds, talle versoeke vir befondsing van bestaande nasionale feeste afgekeur het.
MP Leah Potgieter, die DA se woord-voerder oor sport, kuns en kultuur, sê sy is nie verbaas dat McKenzie haar geskrewe parlementêre vrae oor die misbruik van MGE-fondse ontduik nie. Potgieter eis dat beide die minister en die MGE-beoordelingspaneel voor die parlement ontbied word.
"Hul voortdurende ontduiking van toesig kan nie ongemerk bly nie," sê Potgieter. Sy beweer talle van die fonds se paneellede is openlik PA-lede en ondersteuners.
Sy sê gevestigde feeste wat werks-geleenthede en toerisme ondersteun, soos die Nasionale Kunstefees, Woordfees, Suidoosterfees en die Kaapstad Inter-nasionale Jazzfees, is aangesê om by die MGE-fonds aansoek te doen, net om hul aansoeke summier afgekeur te kry. "Duisende kunstenaars, feespersoneel en toerismewerknemers staar nou onsekerheid in die gesig."
Wes-Kaap help wel
Theart sê die KKNK is dankbaar vir die getroue ondersteuning van die Wes-Kaapse regering en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, wat jaarliks 'n waardevolle vennoot van die KKNK is.
"Die pleidooi aan die nasionale minister is dat hy saam met die nasionale kunstefeeste werk om die mees doeltreffende sisteme in plek te sit, om uiteindelik vir die volgende dekades 'n werkbare en effektiewe befondsingstruktuur te bewerkstellig, om sodoende die kunstegemeenskap te dien en ook Suid-Afrikaanse kuns en kultuur te bevorder."
Hy sê vir hulle gaan dit oor die bevordering van die kunste en om deur die feeste kunstenaars te ondersteun.
Nie politieke pionne nie
"Hierdie gaan oor brood op die tafel en geleenthede wat geskep moet word. Ons stel nie belang om politieke pionne te wees nie. Ons wil 'n verskil maak in mense se lewens en met die regte ondersteuning kan ons soveel meer vermag."
Die KKNK genereer jaarliks 'n ekonomiese inspuiting van ongeveer R60 miljoen vir Oudtshoorn en sowat R150 miljoen vir die omgewing.
City Press berig dat McKenzie alle aantygings teen hom ontken, terwyl die PA se woordvoerder, Steve Motale - wat ook op die befondsingspaneel dien - aan Newsday gesê het die party verwerp Potgieter se bewerings.
'n Navraag is aan McKenzie se woord-voerder gestuur, maar geen reaksie is ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’