OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R3 000 is in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan die 18-jarige matrikulant, Olivia Olifant, wat teregstaan op die moord van 'n 27-jarige man.
Olifant het op 30 Augustus vir Gerald Hoogaard op die hoek van Unie- en Adderleystraat met 'n mes gesteek nadat hulle vroeër in die Rainbow Tavern gedrink en later in 'n woordewisseling was.
Die staat het borgtog teengestaan, maar die landdros het bevind dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan die applikant toe te staan.
Sy het in Julie vanjaar 18 geword en is die ma van 'n driejarige kind na wie sy wil omsien.
Die hof het onder meer bevind dat geen getuienis voor die hof is dat haar vrylating die openbare rus sal versteur of dat sy sal vlug nie. Sy is ook 'n eerste oortreder met geen hangende sake. Sy wil haar matriekeksamen skryf en is van voorneme om aan 'n universiteit te gaan studeer.
Die borgtogvoorwaardes is dat sy nie wegbly vir haar hofverskynings nie. Nie by verdere misdaad betrokke raak nie, en nie met staatsgetuies kontak maak nie. Sy moet ook tot die afhandeling van die saak by 'n ander adres, wat aan die hof bekend is, tuisgaan.
Danielle van der Westhuizen het vir die staat en Zak Lipschitz vir die beskuldigde verskyn.
Die saak is tot 20 Oktober uitgestel sodat sy nuwe regsverteenwoordiging kan kry aangesien Lipschitz net aangestel was vir die borgtogaansoek.
Vorige berig:
Moordverdagte se borgtog uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’