OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Oktober junior boerbokkursus is vanjaar vanaf 1 tot 3 Oktober by Chandelier Game Lodge, net buite Oudtshoorn, aangebied.
Volgens Liza Retief-Ferreira, wat die reëlings en logistiek rondom die kursus behartig het, was die kursus so gewild dat sy die inskrywings sewe dae voor die aanvang van die kursus moes sluit.
Die jongste student, Pierre Beneke van George, was net 13 jaar oud. Die belangstelling is ’n duidelike bewys dat nuwe toetreders die groot potensiaal in die boerbokbedryf raaksien.
Volgens Gerrie Ferreira, gesoute inspekteer en beoordelaar van die Suid-Afrikaanse boerboktelersvereniging (SABTV) was die fokus vanjaar om studente van binne die grense van Suid-Afrika en die omliggende Southern African Development Community (SADC) lande te betrek.
“Die belangstelling in die junior boerbokkursus, wat onder die beskerming van die SABTV en die Wes-Kaapse boerbokklub aangebied is, was egter ongekend. Kursusgangers sover as Nigerië het net eenvoudig opgedaag en moes die personeel op Chandelier bontstaan om akkommodasie en etes te verskaf.”
Die kursusleiers was Ferreira, asook Jan-Chris Marais, bygestaan deur Ockie Nel.
Ferreira sê: “Ten spyte daarvan dat ons dit baie geniet het, was dit nie maklik om so ’n groot groep studente almal genoeg blootstelling te gee nie. Sommige aande moes die kursus tot laat aanhou om ons doelwitte met die studente te bereik. Liza was gelukkig verantwoordelik vir al die logistiek. Om almal van die lughawens en busstoppe op Chandelier en weer terug te kry is byna ’n voltydse werk. Ons is haar en die Chandelier personeel baie dank verskuldig.”
Die sukses van so ’n boerbokkursus word nie net gemeet aan die punte wat studente tydens die praktiese en teoretiese eksamen behaal nie, maar ook die logistieke reëlings in die agtergrond.
Ferreira beklemtoon dat dit wonderlik is om te beleef hoe ons eie passie vir die SA boerbok, Kalahari Red en Savanna-bokke binne drie dae diep inslag vind by nuwe toetreders tot die bedryf.
“Dit is altyd ’n voorreg om ons passie, kennis en ondervinding met ander te deel en hulle sodoende te bemagtig om suksesvol te wees.”
Tydens die kursus word daar ook baie nuwe vriendskappe gesluit en werf hulle nuwe lede tot hul boerbokfamilie.
Volgende kursus
Die volgende junior boerbok kursus op Chandelier sal DV in Maart/April 2026 plaasvind. Hou gerus die Karoo Livestock Exports Facebook-blad dop.
- Knockout trek aandag by Nampo 25
- Knock Out pronk as kampioen
- Internasionale boerbokkursus
- Breeding full blood cattle from Karoo priority for Kenya farmers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’