LADISMITH NUUS - 'n Familie van Zoar, was in die vroeë oggendure van Maandag 6 Oktober in 'n motorongeluk op die R62 tussen Ladismith en Zoar betrokke.
'n Voorlopige ondersoek het aangedui dat die bestuurder van die VW Jetta ongeveer 15 km buite Ladismith, naby die Three Oaks-afrit beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het die pad verlaat en omgeslaan.
Twee volwassenes, 'n niggie en neef, Jamie -Lee Swartz en Geraldo Foster, en twee kinders, Jeserell Swartz (7) en Mirah Steyn (5), het klaarblyklik op die toneel aan hul beserings beswyk, terwyl die enigste oorlewende, die bestuurder, vir mediese behandeling na die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith geneem is.
Al die passasiers was afkomstig van Zoar.
'n Familielid, Emmalecea Swartz, het aan Oudtshoorn Courant genoem dat hierdie 'n baie groot verlies vir die familie is, aangesien hulle ook verlede jaar hul moeder aan die dood moes afstaan. Volgens luitenant-kolonel Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sal 'n nadoodse ondersoek gedoen word. Geen begrafnisreëlings was teen saktyd bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’