OUDTSHOORN NUUS - 'n Opvolggesprek oor die uitwerking van die vloede gedurende Mei is Maandag 27 Julie deur die Oudtshoorn-besigheids-kamer gereël.
Dit volg na 'n aanvanklike gesprek wat in Junie gehou is, waartydens besin is oor die uitdagings wat die Groter Oudtshoorn in die gesig staar nadat miljoene rande se vloedskade aangerig is en Meiringspoort maande gesluit gaan wees.
Maandagaand se gesprek is deur 15 rol-spelers uit die dorp bygewoon en vyf kern-inisiatiewe, wat tydens die eerste gesprek geïdentifiseer was, is tot drie verminder en kontakpersone wat elke inisiatief sal bestuur, is aangewys.
Die drie inisiatiewe en die verantwoordelike persone is:
1. Bemarking, toerisme-aanbod en kommunikasie: Corleen Barnard (Oudtshoorn-toerismekantoor) en Douglas Eriksen van Cango Wildlife.
2. Pro-aktiewe praktiese aksies: Abri Ferreira
3. Ondersteuningsgroep: Herman Engelbrecht, Hans van der Veen en Liesel le Roux.
Volgens besigheidskamerlede, Hans van der Veen (sielkundige) en Herman Engelbrecht (arbeidsielkundige) wat die gesprekke fasiliteer, behels die pad vorentoe dat elke groep, onder leiding van die spesifieke persone aan die stuur, verder aan hierdie doelwitte sal werk en oor twee maande weer om die tafel sit vir terugvoer en vordering.
Die vloedinisiatief sal Donderdagaand, 30 Julie, tydens die besigheidskamer se maandelikse netwerkaand aan sakelui en gaste voorgehou word en mense word genooi om deel te raak van die inisiatief.
Tydens die gesprek van Maandagaand was dit duidelik dat dit 'n inisiatief is wat die hele gemeenskap van die groter Oudtshoorn moet bevoordeel en dat dit 'n langtermynprojek is wat volhoubaar moet wees.
Die krisis waarin De Rust tans verkeer as gevolg van Meiringspoort wat gesluit is, is ook deur verskeie mense om die tafel bespreek.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’