OUDTSHOORN NUUS - Die onwettige stropery en handel in vetplante, spesifiek skaars bedreigde en beskermde spesies, is besig om met rasseskrede toe te neem.
Volgens Leon Rossouw, stigter van die Wildlife Crime Information Network (WCIN), is hierdie praktyk nie net skadelik vir die omgewing nie, maar ook onwettig en uiters moeilik om te reguleer.
"Hierdie plante kan honderde, selfs duisende dollar werd wees," sê Rossouw. "Die probleem is dat hulle dikwels direk uit die natuur geoes word, eerder as om wettig gekweek te word."
Twee persone is onlangs in Oudtshoorn hiervoor in hegtenis geneem en sal in Augustus in die hof verskyn.
Vetplante soos Lithops-, Conophytum- en Haworthia-spesies is baie gesog onder versamelaars regoor die wêreld, veral in lande soos Japan, Suid-Korea en die VSA. Hierdie plante, dikwels klein en uniek in vorm, word bemark as "skaars" en "versamelbaar", wat 'n winsgewende mark geskep het.
Volgens Rossouw word hierdie spesies op platforms soos Facebook Marketplace en ander aanlyn groepe sonder enige toesig verhandel. Die lyste is gereeld vaag of doelbewus misleidend gemerk, en verkopers verskaf selde bewys van wettige oorsprong.
Wat is die gevare?
Biodiversiteit in gevaar: Vetplante is dikwels endemies, hulle groei slegs in baie spesifieke, plaaslike habitatte. Die onwettige verwydering van hierdie plante vernietig nie net die plant self nie, maar ontwrig hele ekosisteme. Stadige groei en spesifieke omgewingsbehoeftes beteken dat hervestiging en herstel amper onmoontlik is.
Wetlike oortredings: Internasionale ooreenkomste soos Cites (Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora) reguleer die handel in bedreigde spesies. In Suid-Afrika is die oes en verkoop van beskermde plante sonder die regte permitte 'n kriminele oortreding.
Die omvang van die probleem
Onlangse navorsing toon dat minstens 70 vetplantspesies op Cites-lyste voorkom, wat hul kwesbaarheid vir handel en stropery aandui. Onwettige planthandel is 'n deel van die groter wêreldwye wildhandelmark.
Die feit dat 'n plant binne dae van 'n beskermde reservaat in die Klein-Karoo tot in 'n versamelaar se huis in Kalifornië kan beland, wys hoe internasionaal en onnaspeurbaar hierdie bedryf is.
Rooi vlae:
Hoe om onwettige handel te herken
Vae beskrywings sonder spesifieke plantidentifikasie of herkoms.
Ongewone pryse, óf te laag óf buitensporig hoog.
Geen dokumentasie van wettige oorsprong.
Verskeie seldsame lyste van dieselfde verkoper in kort tyd.
Wat kan jy doen?
Rapporteer verdagte verkope op platforms soos Facebook Marketplace.
Koop slegs by kwekerye wat dokumentasie van wettige oorsprong verskaf.
Deel inligting oor die impak van stropery en onwettige handel met ander plantliefhebbers.
"Wanneer mense 'n vetplant koop, dink hulle selde aan die impak van hul aankope, maar elke onwettige aankoop help om 'n mark aan die gang te hou wat direkte skade aanrig aan Suid-Afrika se biodiversiteit."
Meld aan by WCIN
Inligting oor onwettige handel kan aan WCIN via hul hulplyn gestuur word. Stuur 'n WhatsApp na 079 643 9556 of skakel hulle. 'n E-pos kan ook aan report@wcin.org.za gestuur word. Alle inligting wat verskaf word, sal vertroulik behandel word.
Probeer om WCIN van die volgende inligting te voorsien: 'n adres (straatnaam, huisnommer, ens.), besonderhede van voertuig (registrasienommer, maak, kleur), rigting waarin gereis word 'n foto of video indien moontlik.
Vorige berig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’