OUDTSHOORN NUUS - Burgers & Bites Takeaways is Saterdag deur 'n gesoute swendelaar om die bos gelei nadat 'n vals bestelling geplaas is deur iemand wat homself as 'n lid van die polisie voorgedoen het.
Volgens Marinda Zeelie, eienaar van Burgers & Bites, het die voorval begin toe 'n persoon wat homself as sersant PS Nkosi van die SAPD ondersoekeenheid voorgestel het, 'n groot bestelling vir kos en koeldranke geplaas.
Die man het boonop versoek dat twee geskenkbewyse ter waarde van R500 elk saam met die bestelling ingesluit word.
"Die bestelling was net onder R1 500, plus die twee vouchers. Aflewering is versoek en hy het gesê die betaling sal kontant wees," vertel Zeelie. Haar suster, Riana Fourie, het die dag vir haar ingestaan en die bestelling is voorberei.
Die kos is gemaak en die geskenkbewyse is aangekoop en vooruit aan die sogenaamde sersant gestuur. Maar toe die aflewering gedoen moes word, het die waarheid vinnig geblyk: die persoon het nie bestaan nie, en die beamptes by die stasie het bevestig dat daar geen lid met daardie naam of nommer werk nie.
"Ons moes geweet het dit is 'n slenter, maar mens wil mos maar mense vertrou," sê Zeelie. "Ons was darem gelukkig dat ons die kos kon herverkoop, maar die vouchers is weg."
Fourie het die voorval op 'n plaaslike Facebook-groep gedeel. In die kommentaar het dit na vore gekom dat dieselfde swen-delaar ook in Mosselbaai aktief is en dat ander ondernemings soortgelyke oproepe ontvang het.
Zeelie bevestig dat hulle reeds 'n klag by die polisie ingedien het.
Die eienaar van Camp Roadhouse, Jaco Vorster, sê die swendelaar het Sondag probeer om hulle op dieselfde manier te teiken.
"Ons het dadelik geweet dit is 'n slenter. Hy het selfs lugtyd saam met die kosbestelling probeer vra. Hierdie tipe slenters is ongelukkig nie nuut nie. Ek het al self deurgeloop."
Hy sê klein ondernemings word veral geteiken. "Die goue reël bly: kliënte moet betaal voordat hulle ontvang. Winkeleienaars moet paraat wees, hierdie dinge gebeur vinniger as wat jy dink."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’