OUDTSHOORN NUUS - Annamarie Janse van Rensburg, Oudtshoorn se eie kleurfluisteraar, en bekende kunstenaar het nie bekendstelling nodig nie.
Sy is die kreatiewe meesterbrein agter die 'Paint Club Bespoke Colour Collection' van Plascon en welbekend vir haar talent om kleur te balanseer met byna magiese presiesheid.
Haar visie vir die nuwe kleurreeks is geïnspireer deur die Suid-Afrikaanse landskap met die resultaat van 'n palet van 30 tydlose Plascon-kleure wat ontwerp en geïnspireer is deur die teksture en siel van Suid-Afrika.
Sy beskryf haar kleure as diepte, stilte en krag.
"Die aksente van die kleure is gewortel in wêreld onder ons oppervlak, kleur wat emosie meebring, pienk, goud, vuurlig en drome."
Die 30 unieke kleure is nêrens anders beskikbaar nie, en Janse van Rensburg is trots op die eindresultaat.
"Ek het aanvanklik 84 kleure ontwerp en 30 is as die finale kleure gekies."
Die kleurwiel sluit neutrale, aksente en helder kleure in wat mens laat dink aan klei, steen en woudagtige gebiede.
"My gunsteling kleure in die reeks is Forest Stone, Pennygum en Jeffrey's wave."
Die kleure is eksklusief landwyd by Plascon Paint Expert winkels beskikbaar.
Ten slotte noem sy dat sy die voorreg gehad het om tussen kleur groot te word.
"Ek het beslis verf in my are, ek bestudeer kleur op alle vlakke en het meer as 25 jaar ondervinding in verftegnieke wat ek landwyd gedoen het. Ek het ook 20 jaar terug begin skilder. Die Swartberge se lappieslandskap saam met die Karoohuise is deel van my verfverhaal.
Ek het ook die voorreg gehad om die wêreld se beste kuns te kon sien, maar niks het my voorberei op die Van Gogh-museum in Amsterdam nie! Om al sy werk te sien en sy lewensverhaal te beleef, asook om sy onbeskryflike talent van naby te sien was 'n spesiale en besonderse ervaring. Drie van sy stukke het by my bygebly, die Kraaie, die Blossoms en natuurlik die Van Gogh-selfportret.
Verder was dit vir my ongelooflik om een van Vincent se briewe aan sy broer te lees waarin hy 'n spesifieke groen beskryf wat ek toevallig reeds jare in my winkel gebruik. Dankie Vincent, they did not listen, they did not know how..."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’