OUDTSHOORN NUUS - ’n 24-jarige vrou is Woensdag 10 Desember in hegtenis geneem na dwelms ter waarde van sowat R620 000 by haar woonadres in Oudtshoorn gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, vorm haar arrestasie deel ’n Veiliger Feesseisoen-operasie.
“Lede van die Oudtshoorn-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het ’n perseel in Klapperboshof, Bridgton, deursoek. Tydens die deursoeking is lede na ’n slaapkamer gelei waar hulle vyf sakke tik en Mandrax agter ’n bed aangetref het en tik tussen klere in ’n hangkas.”
In totaal is meer as 1,4 kilogram tik en 2 500 Mandrax-tablette gekonfiskeer. Die vrou is op die toneel op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem.
Speurders van die Wes-Kaapse provinsiale georganiseerde misdaadondersoeke (Narkotika), gebaseer in George, ondersoek die saak verder.
Die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, luitenant-generaal Thembisile Patekile, het die betrokkenheid van die lede geloof en gesê dat hul optrede verseker het dat ’n groot hoeveelheid onwettige dwelms uit die gemeenskap verwyder is.
Die verdagte sal na verwagting vandag, 12 Desember, in die hof verskyn het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’