OUDTSHOORN NUUS - 'n Vragmotor wat bamboes-mandjies en -meubels ter waarde van R1 274 000 vervoer het, het Maandagaand, 8 Desember, omstreeks 23:00 op die kruising van Hoogstraat en Voortrekkerweg aan die brand geslaan.
Nooddienste was vinnig op die toneel en die Oudtshoorn-brandweer het die brand betyds onder beheer gebring.
Verskeie inwoners het bevestig dat hulle 'n harde slag gehoor het. Volgens een inwoner was die slag selfs tot in Wesbank hoorbaar.
Die slag was vermoedelik 'n band wat gebars het, moontlik weens die hitte.
Die presiese oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie.
Volgens die Oudtshoorn-polisie is die bestuurder van die vragmotor en twee insittendes ongedeerd.
"Die bestuurder is versoek om die voertuig te skuif om die verkeersvloei te vergemaklik. Hy het probeer om die brand te blus, maar sy poging was onsuksesvol.
Die vlamme het na die agterkant van die vragmotor versprei en die hele vrag is vernietig," het die polisie bevestig.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word geen kwaadwillige optrede vermoed nie en is geen klag geopen nie.
Oudtshoorn Courant het probeer om die eienaar van die vragmotor te kontak, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’