OUDTSHOORN NUUS - ’n Ondersoek na onwettige dwelmhandel in Oudtshoorn het vrugte afgewerp met die vonnisoplegging van Domaine Brown (34), wat in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis is ná sy skuldigbevinding op aanklag van dwelmhandel.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Wes-Kaapse provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaadondersoeke (Narkotika), gebaseer in George en Oudtshoorn, op 25 September 2024 ’n gesamentlike steekoperasie by ’n perseel in Bridgton, Oudtshoorn, uitgevoer.
“Tydens die operasie is 350 Mandrax-tablette en vier sakkies tik met ’n geskatte straatwaarde van R21 000 gekonfiskeer. Drie verdagtes is op die toneel op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem.”
Domaine Brown is op 3 Desember skuldig bevind en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan twee jaar op 10 Desember vir vyf jaar opgeskort is. Sy twee medebeskuldigdes is steeds in aanhouding en die saak teen hulle duur voort.
Volgens die polisie vorm hierdie skuldigbevinding en vonnis deel van die voortdurende gesamentlike pogings om die toestroming en verspreiding van dwelms in gemeenskappe hok te slaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’