OUDTSHOORN NUUS - Twintig senior inwoners van aftreeoorde en tehuise vir bejaardes het verlede Vrydag, 5 Desember, by die Prince Vintcent-gebou in Oudtshoorn aangesit vir 'n vroeë Kersbederf.
Die geleentheid is deur die eienaars van die gebou, Vital Group, aangebied. Hulle het 'n versoek aan die kantoor van die burgemeester gerig om 20 senior inwoners uit verskillende gemeenskappe vir die geleentheid te nooi.
Tydens sy verwelkoming het die burgemeester, Johan Allers, gesê Oudtshoorn se seniors het vir jare hard gewerk om Oudtshoorn te ontwikkel en dat dit hulle beurt is om bederf te word.
Hy het ook die Vital-groep, wat in George gesetel is, bedank vir hulle inisiatief om die middagtee aan te bied. Hy het gesê die groep se besluit om die gebou te koop, is 'n bewys daarvan dat beleggers van buite die dorp toenemend belangstel in ontwikkeling.
Die eienaar van Vital-groep, Sebastian Moretti, het gesê die groep wat hoofsaaklik kommersiële eiendomme besit, het die Prince Vintcent-gebou in 2023 gekoop en dat die groep nou ook uitbrei na residensiële eiendomme.
Moretti het na die ontwikkeling van besigheidspersele die afgelope jaar verwys en gesê Oudtshoorn is die ideale dorp vir beleggings en raak al meer aanloklik vir mense van buite. Hy het as voorbeeld verwys na die nuwe bakkery in die gebou wat onlangs oopgemaak het en ook vir die dag se verversings gesorg het.
Kantoorpersoneel van die burgemeester se kantoor en personeel van die Vital-groep het die gaste bedien en ook 'n geskenk aan elkeen oorhandig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’