OUDTSHOORN NUUS - Die Weyers Memorial United Congregational Church het Saterdagaand, 6 Desember, as deel van die kerk se 40ste bestaansjaarvieringe die Kerfeeskantate, What Kind of Throne onder leiding van die kerk se orrelis en koorleier, John Theodore, aangebied.
Dit was die eerste keer dat Theodore as dirigent en nie as begeleier op die orrel, opgetree het, en die tweede kantate van die kerk.
Die soliste was Annalize Moos (sopraan), Catherine Wicomb (alt) en Daryll Rondganger (tenoor) met Anastacia Fillies en Gavin Arends die twee voorlesers.
In ’n kort voorprogram het drie soliste, Andrea Horne (Oh Holy Night) Daryll Rondganger (Silver Bells Medley) en Garnett Wicomb (Plea for Africa) opgetree terwyl die kerkkoor-mannekoor ook elk ’n Kerslied gesing het.
Die Weyers Memorial United Church het op 25 Desember 1985 tot stand gekom toe 44 diakens deur die Bridgton Congregational Church uit hul ampte geskors is. Hulle het daarna ’n aparte kerkdiens vir hul families in die MOTH-saal in Voortrekkerweg gereël en was verras met die groot aantal ander families wat ook die diens bygewoon het.
Die hoogtepunt van die feesvieringe vind plaas op Kersdag met verskillende aktiwiteite by die kerk, volgens die sekretaris van die feeskomitee, Vaughan Muller.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’