OUDTSHOORN NUUS - Klagtes is vanuit die gemeenskap ontvang oor die toenemende rioolreuk en gemors in die Grobbelaarsrivier naby die hangbrug in Kerkstraat.
Volgens inwoners word daar veral snags verskeie persone langs die rivier opgemerk wat die water gebruik om in te bad en vir ablusie wat die bestaande besoedelingsprobleme verder vererger.
'n Taxibestuurder is ook gesien waar hy sy voertuig aan die rivieroewer was, met seep wat direk in die water afloop. Die stilstaande gedeelte van die rivier links van die pad in die rigting van die rolbalklub is reeds vaal, vermoedelik van die seepwater.
Tydens 'n besoek aan die gebied was daar 'n rioolreuk, die water grysblou, en sigbare rommel het in die rivier gedryf.
'n Inwoner en rolbalspeler, wat Donderdag 4 Desember met Oudtshoorn Courant gesels het, sê die stank het 'n direkte uitwerking op sport- en ontspanningsaktiwiteite naby die rivier.
"As ons rolbal speel en die wind draai, moet ons maar met die verskriklike reuk saamleef. Dis tyd dat hierdie probleem dringend aandag kry," het hy gesê. Volgens hom skep dit ook 'n uiters swak indruk wanneer besoekers Oudtshoorn besoek vir rolbaltoernooie.
Munisipale kommentaar
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het by navraag bevestig dat personeel van die infrastruktuurdepartement 'n inspeksie by die hangbrug uitgevoer het.
Geen vloei uit die stormwaterpyp was sigbaar nie.
Die stormwaterpyp in die Grobbelaarsrivier by die Hangbrug in Kerkstraat. Foto: Oudtshoorn Munisipaliteit
"Die pyp was heeltemal droog. Slegs die rivier se natuurlike vloei was sigbaar. Die water toon wel 'n ligte verkleuring, maar geen rioolreuk is opgemerk nie," het sy gesê. 'n Watermonster is geneem om vas te stel of enige besoedeling teenwoordig is wat op 'n moontlike rioolbron kan dui.
Mle het verder bevestig dat die omgewings-kantoor die situasie deurlopend sal monitor om die oorsaak van die waterverkleuring, asook die vermoedelike rioolreuk, te bepaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’