OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo is die afgelope twee jaar swaar getref deur 'n knellende droogte. Maar deur vindingryke planne het Boets en Stroebel Nel van De Krans dit sover reggekry om die meeste van De Krans se wingerde te laat oorleef te midde van die ergste droogte in 100 jaar, wat daagliks steeds erger word .
"Ek het baie geleer oor effektiewe wingerdbestuur tydens 'n droogte," sê Boets. "Ons is 45% af op die 2017 oes, kon in sekere blokke net 10% oes, maar op dieper gronde kon ons 60% van 'n normale oes kry."
Nel sê die 45 ha wingerd lewer gemiddeld so 580 ton druiwe per jaar, maar in 2018 was die oes slegs 317 ton. Die appelkoos-oes was die afgelope seisoen ook met 20% af en die perske-oes met 35% teenoor die vorige jaar.
Hulle moes leer om nuut te dink met betrekking tot die droogte en het navorsing gedoen oor hoe produsente in Kalifornië in die VSA, wat die afgelope jare erge droogtes ondervind het, droogte hanteer. Wingerdbou-voorligters van Vinpro, 'n nie-winsgewende maatskappy wat die wynbedryf verteenwoordig, het ook nuttige inligting verskaf.
"Die belangrikste vir ons was om die wingerdstokke te probeer bewaar, want dit kos tussen R150 000 en R180 000 per hektaar om 'n wingerd te vervang. Dan moet jy drie tot vier jaar wag vir die oes terwyl jy steeds lopende kostes moet aangaan."
Hoe het hulle hul wingerd help oorleef?
"Die belangrikste was lowerbestuur. Ons het die moeilike besluit geneem om reeds net na bot 'n derde van alle lote te verwyder om blaarmassa te verminder. Later in die seisoen, in November en Desember, is verdere lote en trosse verwyder om seker te maak die stokke se waterbehoefte bly so laag as moontlik.
Ons moes ook sorg dat die wingerd geen kompetisie van onkruide kry nie. Ons het geen deklaag gesaai nie, en die koste wat ons op besproeiing gespaar het, eerder gebruik om baie goeie onkruidbeheer toe te pas.
Tydens Desember en Januarie is alle stokke wat swaarkry met trekkers en waterkarre natgemaak.
"Ons het al die trosse van stokke, wat blare begin verloor het, afgesny en die stokke individueel water gegee. Genadiglik het ons einde Januarie en weer middel Februarie 'n reënbui van ongeveer 20 mm gekry, wat uiteindelik, dit wat oorgebly het van die 2018 oes, kon rypmaak.
"Die uiteindelike gevolg was 'n baie kleiner oes, maar steeds goeie gehalte wyne.
"As gevolg van al hierdie maatreëls lyk dit of ons dalk minder as 5% van ons stokke verloor het. Dit is egter nog steeds baie droog, so dit is te vroeg om akkuraat te kan weet wat die permanente verlies aan stokke gaan wees.
"Ons sal die werklike skade eintlik eers in September vanjaar sien, wanneer die wingerde weer begin uitbot."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'