OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die CP Nel-museum minstens tot einde Januarie gesluit gaan bly. Die raad van trustees van die CP Nel-museum het op 2 Januarie die hekke van die museum gesluit omdat hulle bekommerd is oor die voortdurende bestuursuitdagings by die museum.
Volgens 'n verklaring wat Herman Labuschagne, voorsitter van die raad, op 2 Januarie uitgereik het, het hulle besluit om die deure te sluit tot tyd en wyl die raad vertroue in die behoorlike bestuur van die museum het.
Hierdie kennisgewing was egter nie goed deur die museumbestuurder, Moses Mthethwa, ontvang nie en hy het dadelik op Facebook aangekondig dat die museum wel oop is. Hy het egter daardie selfde dag 'n brief wat hy van sy werkgewer, die departement sport en kultuur, ontvang het op sosiale media gedeel waarin hy opdrag gekry het om van die huis af te werk, maar hy moet beskikbaar wees om vergaderings by te woon wat deur die raad of museumbestuur geskeduleer word. Hy moes ook die museum se sleutel, die alarmkode, die kluissleutels en enige kontant aan een van lede van die raad oorhandig.
Die onmin tussen Mthethwa en die raad het op 3 Januarie verger toe Mthethwa besluit het om terug te gaan na die museum omdat hy glo die raad se opdrag as onwettig beskou.
Volgens Labuschagne het hulle daarvolgens die deure van die museum gesluit en het Mthethwa die polisie gekontak.
Die polisie het dit as 'n interne saak beskou en geen verdere aksie is geneem nie.
Labuschagne het dié week gesê, dat Mthethwa het, sover bekend nié die sleutels oorhandig nie of enige van die ander opdragte uitgevoer het nie. Hy het wel uiteindelik die museum gesluit.
Moses Mthethwa. Foto: Liezl van Niekerk"Die museum sal dus tot minstens einde Januarie gesluit bly, waarna ons weer die situasie sal evalueer. Ons hoop egter dat ons teen die tyd wat die KKNK begin hierdie situasie uitgesorteer sal hê."
Agtergrond
Mthethwa was sedert 2021 verskeie kere in die kollig.
In 2021 het 'n dispuut tussen hom en die Oudtshoorn-munisipaliteit begin wat onder meer oor die uitsetting van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor gehandel het. Hiérdie dispuut het eers in 2023 geeindig.
In Mei 2024 het dit egter aan die lig gekom dat die departement van sport en kultuur met ondersoeke oor onder meer die museum se finansies besig is. Verskeie klagtes is oor die museum ingedien wat onder meer verband hou met die wanbetaling van personeel en uitstaande finansiële verslae. Ander kwessies wat geopper was, is die toestand van die museum en die feit dat die publiek sukkel om telefonies kontak met die museum te maak en dat die museum nie op vasgestelde tye oop is nie. Mthethwa is in Junie 2024 weens die ondersoek geskors, maar sy skorsing is weer in Augustus 2024 gelig.
Die ondersoek is egter steeds aan die gang.
Mtwethwa het aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy nie met die media mag kommunikeer nie.
Vorige artikels oor die museum:
- Museum-bestuurder kontak polisie oor sluiting van deure
- CP Nel Museum se deure agter slot en grendel
- Lock gate halts meeting
- Museum bestuurder se skorsing gelig
- Museum bestuurder tydelik geskors
- Museum se finansies onder vergrootglas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’