OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die CP Nel-museum in Oudtshoorn weer onder die vergrootglas is, maar dié keer word die museum se finansies bekyk. Dit blyk ook dat die departement van sport en kultuur met ondersoeke in die verband besig is.
Oudtshoorn Courant het verlede jaar berig oor die dispuut tussen die museum en die Oudtshoorn-munisipaliteit wat oor ondermeer die uitsetting van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor gehandel het.
Die dispuut het onder andere gehandel oor die verhuring van die gebou waar die toerismekantoor tans geleë is. Die gebou was ook waar die kantore van die besigheidskamer en Agri-vereniging was.
Oudtshoorn Courant het in 2021 reeds berig dat die gebou waarin die toerisme-kantoor geleë is, aan die munisipaliteit behoort, maar deur die museum aan toerisme onderverhuur word. Die museumgebou is ook die munisipaliteit se eiendom, maar word aan die museum verhuur.
Die museum het probeer om huurders uit die toerismegebou te sit en die besig-heidskamer en Agri-vereniging, wat ook in die toerisme gebou geleë was, het reeds na 'n ander perseel verhuis. Die munisipaliteit het ook op 'n stadium die elektrisiteitstoevoer na die museum afgesit weens wanbetaling van die museum.
Die dispuut het egter geëindig toe die museum se nuwe raad van trustees Augustus verlede jaar deur die departement aangestel is. Die lede wat tot die raad verkies is, is Liwa Gunguluza, Johan Dupisani, Langa Njoko, Herman Labuschagne, Johan Fourie, Moses Mthethwa, Lorelle Hutton en Jerome Lambaatjeen.
Nuutste ondersoek
Oudtshoorn Courant het die afgelope tyd verskeie klagtes ontvang wat onder meer verband hou met die wanbetaling van personeel en uitstaande finansiële verslae. Ander kwessies wat geopper was, is die toestand van die museum en die feit dat die publiek sukkel om telefonies kontak met die museum te maak en dat die museum nie op vasgestelde tye oop is nie.
Dit blyk ook dat geen subsidie uitbetaal kan word indien finansiële verslae nie beskikbaargestel word nie.
Die mees kwellende kwessie op die stadium is die feit dat personeel, wat as EPWP-werkers aangestel is, nie betaling ontvang nie. Die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) het sy oorsprong in Groei- en Ontwikkelingsberaad (GDS) van 2003 en is 'n regeringsinisiatief wat bydra tot armoedeverligting deur tydelike werk vir werkloses te verskaf.
Tanya Colyn, hoofkommunikasie-beampte van die departement van kultuursake en sport, het die week bevestig dat daar 'n provinsiale forensiese ondersoek oor verskeie bewerings by CP Nel-museum, insluitend die kwessie van die museum se finansiële stand, aan die gang is.
"As deel van die ondersoek sal die betrokke banke die museum se bankstate aan die provinsiale forensiese ondersoek-span verskaf. Die departement van kultuursake en sport en die CP Nel-museum se raad van trustees wag op die uitslag van die ondersoek van die provinsiale forensiese dienste. Sodra dit beskikbaar is, sal die verslag bestudeer word en die toepaslike aksies geneem word," het sy gesê.
Navrae welkom
Oudtshoorn Courant het ook 'n navraag aan die nuwe museumraad gestuur.
Hoewel hulle teen druktyd geen terugvoer rakende die ondersoek kon gee nie, het hulle wel gesê die raad verwelkom navrae en klagtes van die publiek.
Alle klagtes kan per e-pos na michael.jansevanrensburg@westerncape.gov.za gestuur word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’