OUDTSHOORN NUUS - Moses Mthethwa, bestuurder van die CP Nel-museum, wat in Junie vanjaar op "voorsorg skorsing" geplaas is hangende 'n interne provinsiale forensiese-diensondersoek, is sedert Maandag 29 Julie in sy pos as bestuurder terug by die museum.
Volgens Mthethwa het hy 'n brief van die departement ontvang waarin hulle sê: "Die ondersoek na genoemde bewerings is afgehandel en onvoldoende bewyse is gevind om formele dissiplinêre stappe teen jou in hierdie verband te regverdig."
Daar was ook 'n brief aan hom gerig waarin daar gevra word dat hy weer op 29 Julie by die kantoor moet aanmeld.
Oudtshoorn Courant het vroeër die jaar berig oor die ondersoek wat by die museum van stapel gestuur is, en die bewerings van wanbetaling van personeel, wat as Uitgebreide Openbare Werke-program EPWP-werkers by die museum aangestel is.
Volgens hom kon die personeel nie betyds betaal word nie, omdat die proses vir die nuwe jaarlikse befondsing wat van die staat af kom, vertraag was.
Hy sê ook die bewerings was ongegrond en polities gemotiveerd.
"Hulle wou my aandag aftrek sodat hulle die onwettige, nuwe huurooreenkoms tussen die munisipaliteit en die raad kon implementeer. Die munisipale bestuurder het die ooreenkoms sonder die goedkeuring van die raad onderteken."
Volgens hom was hy ook nie van enige bewerings teen hom bewus nie, en het vir die eerste keer in die media daarvan gelees.
Hy het verder gesê dat amptenare van die provinsiale forensiese-diensonder-soekeenheid 'n verrassingsbesoek aan die munisipaliteit gebring het, en by sy kantoor "ingebreek het" terwyl hy met verlof was. Hy voer aan dat die amptenare skootrekenaars en dokumente gekonfiskeer het en personeellede beledig en geïntimideer het.
"Die ondersoek is afgehandel, maar steeds weier hulle om vir my die verslag te gee."
Hy het egter die versekering gegee dat die museum sal voortgaan om die kulturele erfenis van die Groter Oudtshoorn te identifiseer, te versamel, te dokumenteer, na te vors, te bewaar, uit te stal en te bevorder. Ons sal dit ook, soos voorheen, vir die toekomstige geslagte bewaar."
Tania Colyn, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement sport en kultuur, het bevestig dat die Mthetwha se skoring gelig is, maar bygevoeg het dat die provinsiale forensiese-diensondersoek steeds aan die gang is.
"Vir nou wag ons nog op die verslag van die ondersoek. Nadat ons die verslag ontvang en bestudeer het, sal daar besluit word oor die volgende stappe."
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het aangedui dat hulle nie kommentaar rakende die huurooreenkoms gaan lewer nie.
Liwa Gunguluza, voorsitter van die museumraad, het gesê dat hy bewus is van Mthethwa se terugkeer en dat hy na 'n vergadering met die raad kommentaar sal lewer.'
Intussen het Herman Labuschagne as lid van die raad bedank.
"Aangesien dit blyk dat daar geen ernstige begeerte is om die katastrofiese sake van die CP Nel-museum reg te stel deur die wortel van die probleem reg te stel nie, het ek my bedanking gister by die minister van Sport en Kultuur aangekondig, met onmiddellike effek," was sy verduideliking aan die raad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’