OUDTSHOORN NUUS - Die teenwoordigheid van polisie-voertuie Vrydag 3 Januarie by die CP Nel-museum het 'n paar wenkbroue gelig. Inligting is ook ontvang dat Moses Mthethwa, die bestuurder van die CP-Nel-museum, die Oudtshoorn-polisie na die museum ontbied het. Die optrede blyk te spruit uit die instruksie wat hy ontvang het dat die museum se deure tot verdere kennisgewing gesluit is.
Herman Labuschagne, die voorsitter van die raad van trustees, noem by navraag dat Mthethwa die instruksie as onwettig beskou het en geweier om dit uit te voer. "Die raad van trustees was genoodsaak om self die museum se deure te sluit, waarna hy die polisie ontbied het. Die polisie het dit as 'n interne saak beskou en geen verdere aksie is geneem nie."
Volgens Labuschagne het Mtwethwa ook amptelik instruksie van sy hoofde by die departement van sport en kultuur ontvang dat die museum op 2 Januarie 2025 gesluit moet word.
Ten slotte noem Labuschagne dit lyk of die deure van die CP-Nel-museum nou wel gesluit is.
Departement reageer
Tania Colyn, die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement sport en kultuur, het by navraag genoem dat die departement in gesprek is met die museumraad van trustees om al die feite te bekom.
"Die CP Nel-museum behoort nie aan die departement sport en kultuur nie, maar is onder die beheer van die museumraad van trustees wat verantwoordelik is vir die bestuur van die museum".
Volgens Colyn ondersteun die departement egter die museum deur befondsing vir aanstelling van personeel, onderhewig aan beskikbare fondse.
Uit die laaste kommunikasie met Mtwethwa het hy aan Oudtshoorn Courant genoem dat hy nie met die media mag kommunikeer nie.
Vorige artikels oor die museum:
- CP Nel Museum se deure agter slot en grendel
- Lock gate halts meeting
- Museum bestuurder se skorsing gelig
- Museum bestuurder tydelik geskors
- Museum se finansies onder vergrootglas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’