OUDTSHOORN NUUS - Moses Mthethwa, bestuurder van die CP Nel-museum, is "op voorsorg skorsing geplaas" hangende 'n interne provinsiale forensiese-diensondersoek wat tans aan die gang is.
Oudtshoorn Courant het vroeër die maand berig oor die ondersoek en die wanbetaling van personeel, wat as Uitgebreide Openbare Werke-program EPWP-werkers aangestel is.
Tania Colyn, hoofkommunikasiebeampte van die departement van kultuursake en sport het by navraag gesê dat die departement die Raad van Trustees van die CP Nel-museum bystaan deur amptenare te voorsien om te help met die bestuur van die museum so ver as wat hulpbronne dit toelaat totdat hierdie saak opgelos is.
Sy het die versekering gegee dat die museum oopbly en steeds sy dienste aan die publiek bied.
Dit blyk egter dat die wanbetaling van die werkers steeds 'n probleem is en dat personeel verlede Donderdag 'n vergadering gehad het waarin hulle weier om verdere dienste te lewer tensy hulle nie betaal word nie. Die Le Roux-dorpshuis is sedertdien gesluit.
Francois Fouché, streekbestuurder: Bolandstreekmuseums, direktoraat museums, erfenis en geografiese name by die departement van kultuursake en sport, is as tydelike bestuurder by die museum aangestel. Hy het die week gesê die Raad van Trustees is bewus daarvan dat die publiek bekommerd is oor die voortgesette funksionering van die CP Nel-museum.
"Die Raad van Trustees wil die mense van Oudtshoorn gerusstel dat die CP Nel-museum oop bly vir besoekers en sal voortgaan om dienste aan die gemeenskap te lewer. Le Roux-dorpshuis is tans gesluit, maar sal in die volgende paar dae heropen."
Fouché het bygevoeg dat die raad die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die Oudtshoorn-munisipaliteit en sy ander belanghebbendes vir hul volgehoue ondersteuning in die bestuur van die pad vorentoe by die CP Nel-museum bedank.
"Saam sal ons verseker dat die CP Nel-museum 'n baken van erfenisbewaring vir die mense van Oudtshoorn en toekomstige geslagte sal bly."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’