Update
OUDTSHOORN NUUS - Stephanus Olivier, die pastoor wat in 2018 op aanklag van verkragting en seksuele molestering in hegtenis geneem is, het Maandag in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig gepleit op die 37 aanklagte teen hom.
Die aanklagte hou verband met pornografie, verkragting en molestering. Olivier, 'n pastoor van die PPK-gemeente op Oudtshoorn, is in 2018 by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem.
Hy is op 15 Oktober 2018 op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Christo van der Bergh, Olivier se regsverteenwoordiger, het Maandag sy pleit aan die hof voorgelees. Hierin ontken hy dat hy die twee klaers in die saak onsedelik aangerand en verkrag het.
Hy ontken ook dat hy in die tydperk van 2017 tot 2018 in besit was van 'n film wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpornografie bevat.
Die eerste klaer in die saak het Maandag in camera begin getuig. Lede van die media het aansoek gedoen om die verrigtinge te dek en toestemming is deur die hof verleen. Volgens wet mag die naam van 'n klaer in 'n seksuele misdryf nie bekend gemaak word.
Die klaer, wat tydens die beweerde verkragtings 13 jaar oud was het in detail verduidelik wat tydens die beweerde voorvalle gebeur het.
Volgens haar getuienis in die hof aan staatsaanklaer adv. Michelle Weyers, was twee van die beweerde molesteringsvoorvalle in die Olivier-huis waar sy vir twee weke gebly het. Twee van die beweerde verkragtingsvoorvalle was by die kerk en die ander by 'n kantoor waar hy gewerk het.
Volgens haar het sy nie dadelik iemand van die beweerde voorvalle vertel nie, omdat sy nie werklik iemand kon vertrou nie, maar sy het later haar stiefma van die beweerde molestering ingelig. Haar stiefma het egter gesê dat dit nie 'n goeie idee is om haar pa daarvan te vertel nie, aangesien haar pa Olivier iets sou aandoen.
Volgens haar het haar stiefma gesê dat sy wel Olivier daaroor gekonfronteer het en dat hy dit teenoor haar erken het en gesê het dat hy God om vergifnis gaan vra.
Sy het verder getuig dat sy in standard ses uit die skool is en in 2012 saam met die pa van haar kinders teruggekeer het Oudtshoorn toe. Op daardie stadium het dit finansieel nie goed gegaan nie en het hulle in hul motor met die kinders gebly. Sy was te trots om hulp te vra.
Olivier het, volgens haar getuienis, met haar kontak gemaak en haar R800 aangebied om die dorp te verlaat. Sy moes ook 'n briefie teken om te sê dat hy haar nie verkrag of gemolesteer het nie anders sou hy die welsyn bel om die kinders weg te neem. Sy het die briefie geteken.
Volgens haar het sy in 2018 die saak aanhangig gemaak omdat sy weer gelukkig wou wees en eers "van die ou spoke in haar lewe ontslae wou raak".
Volgens haar het die voorvalle haar nog meer soos 'n uitgeworpene laat voel.
"Dit het my laat voel asof ek gemerk is."
Sy het ook getuig dat sy 'n maagd was toe hy haar na bewering die eerste keer verkrag het.
Kruisondervraging deur Van der Bergh het Dinsdag begin. Die saak is telkemale onderbreek omdat die klaagster baie emosioneel geraak het. Sy het aan Van der Bergh gesê dat Olivier aan haar gesê het dat sy 'n probleemkind is en dat niemand haar in elk geval sal glo nie.
Tydens kruisondervraging het sy aan Van der Bergh gesê dat sy iets wil byvoeg wat nie in haar verklaring was nie. Sy het nie op daardie stadium daaraan gedink nie en daarom is dit nie in die verklaring nie. Volgens haar het Olivier ook gereeld aan haar privaatdele gevat wanneer hulle in sy swembad geswem het.
Van der Bergh het dit egter aan haar gestel dat daar baie verskille tussen haar getuienis in die hof was en dit wat in die verklaring is en dat sy leuens opmaak en haar weergawes aanpas soos dit haar pas.
Hy het dit ook aan haar gestel dat sy gereeld vir verdagings vra omdat die vrae in kruisondervraging vir haar te moeilik raak om te antwoord. Volgens hom het sy kliënt ook gesê dat hy nooit alleen saam met die klaer was nie.
Van der Bergh het dit ook aan haar gestel dat sy na sy die R800 van Olivier ontvang het weer na sy kantoor gegaan en hom vir geld gevra en hom gedreig het met die verkragtingsklagtes wat sy sou lê indien hy nie die geld gee nie.
Volgens Van der Bergh is die klaer ook R10 000 betaal deur 'n kennis om die klagtes te lê.
Na die kruisondervraging het landdros Daniël Boks die saak na 7, 8 en 11 Mei uitgestel sodat 'n deskundige sowel as die tweede klaer kan getuig.
Read previous articles:
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'