Update
OUDTSHOORN NUUS - Sowat 3 000 roubeklaers het verlede Saterdag die Bridgton United Congregational Church in Oudtshoorn volgepak vir seker een van die grootste begrafnisse in jare op dié Karoodorp, dié van gewilde en beminde rugbyspeler, Boutros (Boelie) May.
May (30) het die oggend van 12 Februarie gesterf nadat hy in die middedorp in die skouer gesteek is - sy dood het skokgolwe deur die gemeenskap en die rugbywêreld gestuur.
Die diens in die kerk is voorafgegaan deur 'n huisdiens in Vygiehof, gelei deur aartsbiskop Reyalno Ettienne Booyce, waarvandaan spelers van die Bridgton-rugbyklub die kis, gedrapeer met 'n vlag van die klub en geverf in die klubkleure, om die beurt tot by die kerk gedra het. Samantha McBean van Genesis-begrafnisdienste het met 'n rugbybal die stoet gelei.
Die president van Bridgton-rugbyklub en bestuurslid van Saru, Hennie Baartman, het in sy huldeblyk medelye van Saru-president, Mark Alexander, aan die familie van May, die rugbyklub en Oudtshoorn oorgedra.
"Bridgton en Oudtshoorn het 'n skitterende flank verloor wie se doelwit dit was dat Bridgton vanjaar die SWD-beker moet wen. Hy was 'n merkwaardige man en ek wil hom vergelyk met 'n Dawid van die Bybel. Hulle was albei wenners. Boutros was 'n wenner en met sy dood het hy sy dorp, die streek en die hele Suid-Afrika verenig."
Baartman het May geloof as seker een van die beste flanke wat die rugbyklub en Oudtshoorn opgelewer het.
'n Jare lange huisvriend van die familie, adv. Michelle Weyers, het in haar huldeblyk Boutros as haar rolmodel beskryf.
"As die helfte van Oudtshoorn sy gesindheid gehad het, dan was Oudtshoorn vandag 'n beter plek. Hy was 'n anker vir sy vriende en familie. Dié stil mens het die kerk vandag vol. Boutros het 'n groot impak op my lewe gemaak. Ek sal hom onthou vir sy opregtheid en iemand wat vir almal respek getoon het. Hy het nie onder groepsdruk geswig nie. Hy was 'n man van aksie met min woorde en het nie verdien om so te sterf nie. Hy is so skielik van ons weggeneem en ek kan dit nou nog nie glo nie," het 'n bedroefde Weyers gesê.
Een van May se beste vriende, Surgeo Pypers, het hom beskryf as iemand na wie daar geluister is wanneer hy praat.
"Hy was Boelie die Boer en Boelie die Baas en ek wil vandag die versekering gee dat ons daar sal wees vir mekaar, soos wat hy dit wou gehad het," het Pypers gesê.
May se neef, Orran Mei, het in sy huldeblyk gesê Boutros se nederigheid en persoonlikheid het nooit verander nie. "Hy was van kleins af nie 'n prater nie, maar 'n doener en ook 'n baie goeie swemmer."
Die president van die SWD-rugbyvoet-balunie, Ben Brinkhuis, het namens die unie, die Arende en die breë rugbyfamilie in die Suid-Kaap medelye met die familie betuig. "Een dood in 'n familie en een dood in 'n rugbyklub is een dood te veel," het Brinkhuis gesê.
Volgens hom word baie vrae gevra soos waarom moet 'n 'n goeie man soos Boutros, wat nie gedrink of gerook het nie, so sterf, maar sy boodskap aan die familie is: "Wat God gedoen het is goedgedoen."
Bettie Kumutu, onder wie Boutros by 'n plaaslike skoenfabriek gewerk het, het gesê dat sy hom sal onthou as iemand wat sy werk goed gedoen en nooit nee gesê het nie.
"Boelie het die Here geken. Die dood kry jou waar hy jou wil hê en ons almal moet nader aan Hom leef soos nog nooit tevore nie."
Pastoor John Plaatjies, van die AGS Nissenville, Ladismith, het die diens in die kerk gelei.
Vorige artikels:
- Opvolg: borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Boutros May-moord: Borgaansoek uitgestel
- Verdagte vasgetrek in Boutros May-moord
- Geliefde Bridgton-rugbyklubspeler oorlede
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'