Update
OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat in November verlede jaar op verskeie aanklagte van brandstigting in hegtenis geneem is, se borgtog kan dalk in gedrang wees nadat sy vroeër in Oktober vir beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Die Oudtshoorn Courant het dié week verneem dat Louw op 5 Oktober in Bongolethu vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. Sy sou op 7 Oktober in die hof verskyn, maar daar word glo op die uitslae van die bloedtoetse gewag.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die saak wel onder die staatsaanklaer, wat Louw se saak hanteer, se aandag gebring.
Louw het weer die week in die Oudtshoorn-streekhof op die brandstigtingklagtes verskyn.
Sy het verlede Vrydag in die hof verskyn waarna die saak tot Dinsdag uitgestel is omdat die verdediging en die staat nie 'n ooreenkoms kon bereik nie.
Die landdros het egter Dinsdag die saak voorlopig tot 22 November uitgestel sodat die verhoor kan begin.
Louw staan tereg op vier aanklagte, drie van brandstigting en een van poging tot brandstigting.
Louw is verlede jaar na bewering op heterdaad betrap nadat sy inwoners se huise in Karoopark-aftreeoord aan die brand wou steek.
Sy is aanvanklik borgtog geweier omdat sy nie 'n adres kon verskaf nie, maar is wel in Januarie vanjaar borgtog van R1 000 toegestaan.
Van haar borgtogvoorwaardes is dat sy nie alkohol of enige ander dwelmmiddels mag gebruik nie, sy nie by Karoopark mag kom nie en sy mag ook nie met staatsgetuies inmeng nie.
Lees vorige artikels:
- Beskuldigde verwys na psigiatriese hospitaal
- Beweerde brandstigter wil Valkenburg toe
- Vermeende brandstigter nader hof
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'