OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is vandag aan Patrick Rondganger, wat van die moord op Eric Xaxaka aangekla word geweier.
Xaxaka is 'n dag voor sy 60ste verjaarsdag in sy huis vermoor en in 'n vlak graf begrawe deur Rondganger, 'n vriend van Monica Manual, wyle Xaxaka se dogter.
Tydens die hofverrigtinge het die hoofstaatsaanklaer, Elana Goosen ‘n versoek aan die hof voorgelê om die misdryf van ‘n skedule 5 na ‘n skedule 6 te verander.
Rondganger se prokureur, Brad Michaels het dit teengestaan.
Die versoek het ontstaan as ‘n gevolg van ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux se getuienis op 29 April, waarin daar bevind was dat Rondganger die foon van Xaxaka gesteel en verkoop het.
Landdros Ntombizandile Maseti het die hof verdaag om aan beide Goosen en Michaels tyd te gun om met die onderskeie ondersoekbeamptes wat die saak hanteer, te gesels om vas te stel of die foon voor-of na die moord gesteel was.
Vandag het le Roux (wat vir ondersoekbeampte, ao. Appolis instaan) getuig dat volgens die verklaring op rekord, daar nie met sekerheid gesê kon word of die selfoon na- of voor die moord gesteel was nie, maar dat Rondganger wel ‘n bekentenis afgelê het waarin hy aan Appolis verklaar het dat hy die selfoon geneem het.
Le Roux het ook uitgewys dat Xaxaka se selfoon gevind is en dat sy broer bevestig het dat dit Xaxaka s'n is.
Verskeie punte is deur Maseti uitgewys waarom die hof nie die versoek van Rondganger vir borgtog kon toestaan nie en het Maseti borg geweier.
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek uitgestel tot Maandag
- Ronganger wag op uitspraak van landdros
- Borgtogsaak uitgestel vir uitspraak
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Man se liggaam in vlak graf gevind
- 60-Jarige in Bongoletho vermoor
- Vermiste persoon
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'