OUDTSHOORN - Borgtog is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof geweier aan die oudbalju wie se aansoek om verlof om teen sy vonnis van 36 jaar te mag appelleer in die Kaapse hooggeregshof suksesvol was.
Abraine Brian Coerecius (42) wat homself as 'n prokureur voorgedoen het en huise en erwe aan mense verkoop het wat hy nie besit het nie, is skuldig bevind op ses aanklagte van bedrog en een van geldwassery.
Hy is tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan ses jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word.
Hy het om borgtog aansoek gedoen hangende die uitslag van sy appèl.
Coerecius se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om in belang van geregtigheid borgtog toe te staan omdat hy nie 'n vlugrisiko is of enige ander hangende sake teen hom het nie.
Hy het ook regdeur sy verhoor nooit weggebly van die hof nie en sal alle borgtogvoorwaardes wat die hof mag bepaal, nakom.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê Coerecius het nie teen sy skuldigbevinding geappelleer nie en sal steeds tronkstraf moet uitdien al sou die hooggeregshof sy vonnis verminder. Dat hy buitestraf sal kry is nie moontlik nie. Hy is aan ernstige misdrywe skuldig bevind met baie mense wat hul swaarverdiende geld verloor het.
Volgens haar kon sy dalk borgtog toegestaan het indien sy aansoek teen die skuldigbevinding was.
Hy besef egter dat hy baie mense mislei het deur hom as prokureur voor te doen en die streekhof nie fouteer het met sy skuldigbevinding nie.
Die proses in die hooggeregshof kan volgens die landdros tot ses maande duur.
Vorige artikels:
- Oudbalju verlof toegestaan om teen vonnis te appelleer
- Verlof om te appelleer geweier
- 'Prokureur' pleit skuldig op klag van bedrog
- Broers in hof vir bedrog
- Bedrogsaak teen broers uitgestel
- Broers in hof vir bedrog
- Broers in hof vir bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'