OUDTSHOORN NUUS - Nadat sy petisie om teen sy vonnis van 36 jaar tronkstraf te mag appelleer in die Kaapse hooggeregshof suksesvol was, het ‘n voormalige balju Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof ‘n aansoek om borgtog gebring hangende die uitslag van sy appèl.
Abraine Coerecius (42) wat hom as ‘n prokureur voorgedoen het en huise en erwe aan mense verkoop het, is skuldig bevind op ses aanklagte van bedrog, een van geldwassery en dat hy hom as prokureur voorgedoen het, nadat hy skuldig gepleit het.
Hy is in Februarie vanjaar tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan agt jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof Vrydag om borgtog versoek hangende die uitslag van sy appèl omdat hy nie ‘n vlugrisiko is of enige hangende sake teen hom het nie. Hy het ook nooit weggebly vir sy hofverskynings tydens sy verhoor nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak tot Vrydag 22 Oktober uitgestel omdat die amptelike dokument van die hooggeregshof nie verlede Vrydag beskikbaar was nie.
Vorige artikels:
- Verlof om te appelleer geweier
- 'Prokureur' pleit skuldig op klag van bedrog
- Broers in hof vir bedrog
- Bedrogsaak teen broers uitgestel
- Broers in hof vir bedrog
- Broers in hof vir bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'