OUDTSHOORN - 'n Man wat hom as 'n prokureur voorgedoen het en saam met sy broer tereggestaan het op agt aanklagte van bedrog, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof op al die klagtes skuldig bevind nadat hy 'n U-draai gemaak en skuldig gepleit het op al die aanklagte teen hom.
Abraine Coerecius (41) het aanvanklik net op twee aanklagte, dat hy hom as prokureur voorgedoen en geldwassery, skuldig gepleit. Op die ander ses aanklagte van bedrog het hy onskuldig gepleit en slegs op die alternatiewe aanklag van diefstal skuldig gepleit.
Hy is daarvan aangekla dat hy by ses geleenthede erwe of huise aan drie persone verkoop het wat hy in werklikheid nie besit het nie,
Hy het vier erwe in Knysna en Plettenbergbaai aan Benjamin Vrey en sy seun ten bedrae van meer as R440 000 verkoop, 'n huis in Knysna aan Louis Booysen vir 'n bedrag van R160 000 en 'n erf met belofte om 'n huis daarop te bou, aan Lawak Abrahams, teen 'n bedrag van R160 772.
Coerecius het Vrydag getuig dat sy broer, Anthony Coerecius, nie bewus was van die transaksies nie. Hy het ook getuig dat hy die geld vir sy eie besigheidsdoeleindes gebruik het en vir die opgradering van sy moeder se huis.
Hy het ook getuig dat hy 'n e-posadres vir sy broer geskep het waarvan hy nie geweet het nie. So het sy broer ook nie geweet hoe hy die geld bekom het nie en is aan hom gesê dat dit kommissie was. Hy het erken dat hy verkeerd gedoen het en sy straf sal vat
Vrey, Booysen en Abrahams het Vrydag ter strafverswaring die hof versoek om Coerecius die maksimum vonnis vir bedrog op te lê omdat nie een van hulle van hul geld teruggekry het nie. Volgens Vrey het Coerecius hom lank gelede belowe dat hy die geld sou terugbetaal, maar dit nie gedoen nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, versoek die hof om vonnisse van vyftien jaar gevangenisstraf vir elk van die agt aanklagte op te lê omdat Coerecius dolus eventualis opgetree het.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, versoek die hof om in ag te neem dat hy skuldig gepleit het.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het die saak vir vonnisverrigtinge tot 25 Februarie uitgestel en gelas dat Coerecius, wat tot dusver op borgtog buite was, aangehou word. Sy broer is vrygespreek en ontslaan.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'