OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van twee broers van Oudtshoorn wat teregstaan op verskeie aanklagte van bedrog, asook geldwassery en een van valse voorwendsel as 'n prokureur, is in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel omdat een van hulle weens ongesteldheid nie by die hof kon wees nie.
Abraine Coerecius (40) en Anthony Coerecius (41) word daarvan aangekla dat hulle by ses geleenthede erwe of huise aan drie persone verkoop het wat hulle nie besit het nie, en die klaers die geld kwyt is.
Hulle pleit skuldig op van die aanklagte.
Abraine Coerecius word ook daarvan aangekla dat hy hom as 'n prokureur voorgedoen het. 'n Bedrag van meer as R900 000 is by die saak betrokke. Die beweerde voorvalle het glo tussen 1 Februarie en 7 Maart 2016 plaasgevind. Volgens die klagstaat het Abraine Coerecius hom tussen 1 en 29 Februarie 2016 as 'n prokureur, Paul Pastor, voorgedoen.
Aanklag twee spruit uit 'n voorval tussen 1 en 23 Februarie 2016 toe hy glo 'n erf van sowat R47 000 aan Benjamin Vrey sou verkoop en Vrey die bedrag verloor het.
Aanklag drie spruit uit die verkoop van nog 'n erf aan Vrey te Brenton, Knysna, teen 'n bedrag van R126 000.
Aanklag vier spruit uit die verkoop van 'n erf te Robberg Ridge Estate, Plettenbergbaai teen 'n bedrag van R135 000 aan Golden Rewards 1605 CC.
Aanklag vyf is die verkoop van 'n erf te Fernwood Estate, Knysna, tussen 22 Februarie en 7 Maart 2016 teen 'n bedrag van R162 000, 'n transaksie wat ook nooit 'n werklikheid geword het nie.
Die sesde aanklag is die verkoop van 'n huis in Knysna aan Louis Booysen vir 'n bedrag van R160 000 wat die beskuldigdes nie besit het nie.
Aanklag sewe is een van geldwassery ten bedrae van R144 000 en aanklag agt ook een van bedrog, alternatiewelik diefstal, vir die verkoop van 'n erf en belofte om 'n huis daarop te bou, aan Lawak Abrahams, teen 'n bedrag van R160 772.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is verlede week tot 8 April uitgestel. Die twee beskuldigdes se borgtog is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'