OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee broers van Oudtshoorn wat teregstaan op verskeie aanklagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook geldwassery en een van valse voorwendsel as 'n prokureur, is in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor tot later dié maand uitgestel.
Abraine Coerecius (40) en Anthony Coerecius (41) word daarvan aangekla dat hulle by ses geleenthede erwe of huise aan drie persone verkoop het wat hulle nie besit het nie, en die klaers die geld kwyt is.
Abraine word ook daarvan aangekla dat hy hom as ‘n prokureur voorgedoen het.
'n Bedrag van meer as R900 000 is by die saak betrokke. Die beweerde voorvalle het glo tussen 1 Julie en 7 Maart 2016 plaasgevind.
Volgens die klagstaat het Abraine hom tussen 1 en 29 Februarie 2016 voorgedoen as ‘n prokureur met die naam Paul Pastor.
Klagte twee spruit uit ‘n voorval tussen 1 en 23 Februarie 2016 toe hy glo ‘n erf van sowat R47 000 aan Benjamin Vrey sou verkoop en Vrey die bedrag verloor het.
Klagte drie spruit uit die verkoop van nog ‘n erf aan Vrey te Brenton, Knysna, teen ‘n bedrag van R126 000.
Klagte vier spruit die verkoop van ‘n erf te Robberg Ridge Estate, Plettenbergbaai teen ‘n bedrag van R135 000 aan Golden Rewards 1605 CC.
Klagte vyf is die verkoop van ‘n erf te Fernwood Estate, Knysna, tussen 22 Februarie en 7 Maart 2016 teen ‘n bedrag van R162 000, ‘n transaksie wat ook nooit ‘n werklikheid geword het nie.
Die sesde klagte is die verkoop van ‘n huis op Knysna aan Louis Booysen vir ‘n bedrag van R160 000 wat die beskuldigdes nie besit het nie.
Klagte sewe is een van geldwassery ten bedrae van R144 000 en klagte agt ook een van bedrog, alternatiewelik diefstal, vir die verkoop van ‘n erf en belofte om ‘n huis daarop te bou, aan Lawak Abrahams, teen ‘n bedrag van R160 772.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak tot 25 Julie uitgestel vir ‘n moontlike pleitooreenkoms met die staat.
Die twee beskuldigdes se borgtog is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'