OUDTSHOORN NUUS - 'n Aansoek van 'n voormalige balju van Oudtshoorn om teen sy vonnis van 36 jaar te mag appelleer is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof geweier omdat die landdros van mening is dat daar geen vooruitsigte is dat 'n ander hof 'n ligter vonnis sal oplê nie.
Abraine Coerecius (42) het hom as 'n prokureur voorgedoen en huise en erwe aan mense verkoop wat hy nie besit het nie.
Hy is skuldig bevind op ses aanklagte van bedrog asook aan geldwassery en dat hy hom as prokureur voorgedoen het.
Sy broer, Anthony Coerecius (43), wat saam met hom aangekla is, is deur die hof vrygespreek.
Coerecius se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het in die aansoek die hof meegedeel dat Coerecius van mening is dat die hof die belange van die klaers en die gemeenskap oorbeklemtoon het ten opsigte van die vonnis. Die applikant het ook skuldig gepleit.
Hy is tot altesaam 44 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan agt jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word.
Coerecius het erwe op Knysna en Plettenbergbaai aan Benjamin Vrey van Oudtshoorn verkoop asook 'n huis van R160 000 aan Louis Booysen en 'n erf met die belofte om 'n huis daarop te bou aan Lawak Abrahams vir R160 000 wat hulle nooit ontvang het nie.
Die klaers het nie 'n sent van hul geld teruggekry nie en die hof vir die swaarste vonnis vir bedrog gevra.
Coerecius het aanvanklik net skuldig gepleit op die aanklagte dat hy hom as prokureur voorgedoen het en geldwassery deur geld in sy broer se rekening in te betaal. Hy het teen die einde van die verhoor ook skuldig gepleit op die ses aanklagte van bedrog en is so skuldig bevind.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat Coerecius groot bedrae aan drank en onthaal van vriende bestee het en ook geen berou toon nie.
Sy het met die weiering van die aansoek gesê dat die hof reeds toegewings gemaak en gelas het dat van die vonnisse samelopend uitgedien kan word.
Volgens haar is sy van mening dat geen ander hof tot 'n ligter vonnis sal beslis nie.
Familielede van Coerecius het na die hof se beslissing gesê dat hulle hulle nou tot die Kaapse hooggeregshof sal wend vir verlof om teen die vonnis te mag appelleer.
Vorige artikels:
- 'Prokureur' pleit skuldig op klag van bedrog
- Broers in hof vir bedrog
- Bedrogsaak teen broers uitgestel
- Broers in hof vir bedrog
- Broers in hof vir bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'