KLEIN KAROO NUUS - Dis Desember. Die skole het gesluit. Die gees van Kersfees hang swaar oor die gemeenskap. Alles moet klaar en in plek kom voor die groot feestyd. Mense is moeg. Mense se lont is kort en kort-kort wil iemand iemand anders aan die keel gryp.
As daar nou een ding is waarna 'n moeë samelewing hierdie tyd van die jaar smag, is dit rus. Of liewer – RUS!!!
Ongelukkig is hierdie rus nie vir almal beskore nie. Want daar is heelwat mense wat hierdie tyd van die jaar alles behalwe die luukse van 'n rustyd kan bekostig. Trouens, vir baie is dit 'n tyd van harde werk, van vroeg opstaan en laat gaan slaap.
Hospitale kan nie hulle deure sluit nie. Verkeersbeamptes, die polisie en almal in die sekerheidsbedryf se werk word juis meer.
Winkels se deure moet langer oop bly, wat beteken dat baie nie net agt ure per dag nie, maar selfs langer moet werk. Kortom, die rus waarna almal smag, is helaas nie vir almal beskore nie.
Mag dié wat wel 'n ruskans kry, tog in hulle gebede dink aan dié wat steeds die wiele aan die rol moet hou in die feestyd. En mag dié wat 'n ruskans kry, ook tog 'n bietjie meer vriendelik en geduldig wees met hulle wat in hierdie warm maand steeds dag vir dag in die sweet van die aangesig hulle brood verdien.
Maar die baie motors met karavane en sleepwaentjies wat hier deur ons dorp kus se kant toe ry, sê vir my dat die groot rus waarna baie verlang, uiteindelik aangebreek het. As hulle eers oor die knop van die berg is, en die gesin langnek in die motor sit om te hoor wie eerste uitroep "ek sien die see!", dan is dit die groot werklikheid – rus!
Terwyl ek gister by die rooi robot sit en wag, begin my gedagtes dwaal toe ek vier motors met karavane voor my sien. Ek wonder hoeveel van hulle gaan, wanneer hulle oor twee of drie weke weer hier deurry terug noorde toe, eerlik vir hulleself kan sê "ek het gerus"?
Hoeveel gaan vir hulleself eerlik kan sê dat dit die duisende kilometers, en die duisende rande wat spandeer is, werd was? Hoeveel gaan vir hulleself kan sê ek is nou op 'n beter plek as toe ek in Desember my kantoor en my huis se deur agter my toegetrek het? Hoeveel gaan eerlik kan sê ek het nou nuwe krag, nuwe hoop, nuwe lus, nuwe perspektief?
Ja, 'n mens se droomvakansie, waaraan jy so lank beplan het, en waarvoor jy derduisende rande spandeer, is nie 'n waarborg vir rus nie. Die see, branders, 'n visstok, 'n rivier, 'n stil plek, 'n braaivleisvuur, noem maar op, is nie 'n waarborg vir ware rus nie.
Saamwees met die gesin, familie en vriende wat jy so lanklaas gesien het, bring dikwels juis nie die rus waarna jou hele wese smag nie. Hoeveel mense gaan nie juis moeër (en meer platsak!) huis toe na 'n vakansie.
Ek het al dikwels gehoor dat iemand 'n vriend of kollega die mooi wens toewens: Ek hoop jy gaan rus na liggaam, siel en gees. Maar die vraag bly – waar vind jy daardie rus waarna jy nie net verlang nie, maar wat jou hele menswees so nodig het?
Die rus waarna ons almal smag, lê nie noodwendig op 'n plek nie. Dit lê by Iemand. By Hom wat na hierdie wêreld gekom het om liggaam, siel en gees aan te raak. Om heel te maak wat deur 'n jaar se eise uitgemergel is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'