In die versoekskrif van vier getikte bladsye vra inwoners dat Bredell die bevindings en aanbevelings van die Dekker-verslag van 2003 opnuut ondersoek. Die verslag het gevolg op 'n ondersoek na die bestuur van die munisipaliteit en alhoewel dele van die verslag verdwyn het meen Bredell dat die verslag genoeg inligting bevat waarna gekyk moet word.
"Die verslag bevat genoeg inligting om die bevindings na te gaan ten spyte daarvan dat 40 bokse bewyse onverklaarbaar vernietig is in 'n brand, " het hy gesê nadat hy die versoekskrif van sameroeper Fanie de Jager ontvang het. Met die oorhandiging van die verslag het De Jager gevra dat die minister binne 14 dae daarop sal reageer.
In die versoekskrif vra die inwoners onder andere dat beweerde onregmatige aanstellings in die munisipaliteit ondersoek word, en dat "'n volledige oudit gedoen word om vas te stel of die aanstellings - veral in topposte - in ooreenstemming is met die kwalifikasies, vaardighede en ervaring wat met elke pos verband hou".
Ander versoeke hou verband met ondersoeke na behuising, die oprigting van elektriese meters, toilette en sonpanele, die toekenning van R480 000 vir die opgradering van 'n teerpad, en nog R600 000 vir 'n sypaadjieprojek, wat nie een glo die lig gesien het nie.
"Die gemeenskap wil weet hoe die amptenare van 'n sogenaamde 'bankkrot' munisipaliteit enorme salarisse trek ongeag of dienste effektief gelewer word: Bedrae van R102 000, R84 000 en R90 000 per maand doen die rondte," sluit die versoekskrif af.
Bredell het onderneem om die versoekskrif sowel as die beskikbare dele van die Dekker-verslag te bestudeer en binne 14 dae weer met die inwoners te vergader vir terugvoering.
"Kannaland is 'n moeilike plek en daar is baie persepsies, soos oor aanstellings," het munisipale bestuurder Morne Hoogbaart gesê, wat die oorhandiging dopgehou het maar nie daarby betrek is nie.
"Die wolk hang al 10, 15 jaar oor die dorp, en daar is 'n rouheid in die politiek: die aanvalle is venynig en persoonlik. Al wat ons wil hê is 'n skoon oudit."
Die groep mense het beswaar gemaak dat die burgemeester, Jeffrey Donson, nie daar was nie en sommiges het gevra waarom sy seun, Vlancio 'n raadslid van Oudtshoorn, voor die munisipale geboue langs die munisipale bestuurder staan. " Wat het hy hier te make, dis mos nie sy plek nie." het een opgemerk.
Die burgemeester het ingestem tot 'n onderhoud met die pers in sy kantoor na afloop van die optog en het gesê hy weet nie waaroor die optog gaan nie. "Dit is die DA en ANC se optog. Ek wou nie noodwendig die minister sien nie - hy het 'n probleem, nie ek nie."
Op 'n vraag of hy bewus is van die aard van die klagtes wat in die versoekskrif opgeneem is het hy geantwoord dat daar nog nooit enige klagte op sy tafel beland het nie en dat hy dus van geen klagte of beweerde ongerymdheid bewus is nie.
"Ons het die verkiesing klaar gewen op Mei 2011: 'n jaar is verby en die DA en ANC wil steeds nie die uitslae aanvaar nie."
"Dit is tyd dat die minderheid blankes hul Rubikon oorsteek: dit is hulle wat betaal vir busse om mense na optogte aan te ry. Daardie klein groepie beduiwel alles. Wat hulle nie by die stembus reggekry het nie, wil hulle hê die minister moet regmaak - deur administrasie."

Die minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap, Anton Bredell, ontvang ‘n versoekskrif met 16 punte van ‘n belastingbetaler, Fanie de Jager. Die versoekskrif vra dat beweerde ongerymdhede in die raad en munisipale bestuur ondersoek word. Foto: Hannes Visser
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDSTHOORN COURANT-REDAKTEUR