OUDTSHOORN NUUS - Die beplanning van Oudtshoorn se heel eerste volwaardige skrywersfees het hierdie week die eerste treë gegee met 'n vergadering om die projek met die ATKV, Kunste Onbeperk en Drylands Event Management te bespreek.
Die Arbeidsgenot-komitee het vroeër vanjaar besluit om die moontlikheid te ondersoek om 'n boeke- en skrywersfees in 2027 in Oudtshoorn aan te bied.
Terugvoer van mense wat vir kommentaar oor so 'n fees genader is was uiters positief. Oudtshoorn is per slot van sake waar twee van die bekendste skrywers in Afrikaans, CJ Langenhoven en Etienne le Roux se spore lê. Le Roux, wat die Hertzogprys meer as een keer gewen het, is in Oudtshoorn gebore, het naby De Rust grootgeword en was Langenhoven se peetkind.
Die idee van 'n skrywersfees het ontstaan toe 'n minileesfees vir plaaslike skrywers vroeër vanjaar by die Neelsie-teater by Arbeidsgenot aangebied is.
Terugvoer was so positief dat daar besluit is om na 'n groter fees te kyk.
Daar word beoog om die terrein van Arbeidsgenot en die Neelsie in 'n feesterrein te omskep waar besoekers gesprekke kan bywoon, boeke kan koop en skouers skuur met bekende en opkomende skrywers.
Die afgelope Tuin van digters wat jaarliks in Wellington aangebied word is maar een voorbeeld van hoe suksesvol en gewild kleiner literêre feeste kan wees. Dit is feeste wat op skrywers, digters, boeke en lesers fokus, wat beteken dat bykans alle besoekers boekliefhebbers is.
Die ATKV se streekbestuurder, Jaco Spies, was onmiddellik vuur en vlam toe hy oor hul deelname en ondersteuning van die fees genader is. Uitgewers met wie informeel gesels is, het ook aangedui dat hulle so 'n fees heelhartig sal ondersteun.
Die uitdaging is om 'n geskikte datum te bepaal wat nie met die beplanning en aanbieding van die KKNK en Klein Karoo Klassique sal inmeng nie.
Aangesien Kunste Onbeperk, wat die KKNK aanbied, se kantore by die Neelsie is en Drylands die terrein bestuur en ook by die beplanning van die KKNK en KKK betrokke is, is dit noodsaaklik om hul insette te kry. Daar moet ook na ander feeste in buurdorpe gekyk word om oorvleueling te voorkom.
Met Woensdag se gesprek, wat deur lede van die Arbeidsgenot-komitee, ATKV, KKNK en Drylands bygewoon is, is voorstelle vir moontlike datums gemaak.
Die terrein is ook besoek om te bepaal hoe die buitelug en die teater benut kan word en om voorlopige kostes vir infrastruktuur te bepaal.
Sodra 'n finale datum bepaal is, sal dit met lesers gedeel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’