Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand se omgewings-gesondheidsbeampte, sowel as die munisipale omgewingsgesondheidsbeampte, is besig om die voorval te ondersoek waarin 33 kinders na bewering siek geword het nadat hulle kos, wat by ’n sportbyeenkoms in Bridgton uitgedeel is, geëet het.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, is altesaam 33 kinders Sondag 13 September by die noodeenheid van die Oudtshoorn-hospitaal met vermoedelik simptome van voedselvergiftiging gesien.
Vyf van die kinders is vir verdere sorg in die hospitaal opgeneem. Ferreira het bevestig dat dit goed gaan met al vyf kinders en dat hulle tans vir dehidrasie behandel word. Sy het ook bevestig dat geen kinders na die George-hospitaal oorgeplaas is nie.
“Soos met alle vermoedelike voedselverwante siektes, is dit ’n aanmeldbare toestand en sal ondersoek word,” het Ferreira gesê.
Die ondersoek sal na verwagting help om vas te stel wat die oorsaak van die kinders se simptome was en of daar ’n verband is met die kos wat na bewering in Bridgton uitgedeel is.
Dit is egter steeds nie duidelik wie die organiseerder van die byeenkoms was of wie die kos gemaak het nie.
Oudtshoorn Courant het vroeër berig dat daar volgens inligting wat bekom is, brijani aan kinders uitgedeel is.
Lees meer: Oudtshoorn-kinders na bewering ná voedselvergiftiging in hospitaal opgeneem
Die Demokratiese Alliansie (DA) Oudtshoorn het intussen enige betrokkenheid by die voedseluitdeling op 13 September ontken.
Die DA het ’n beroep gedoen op die persoon, organisasie of politieke party wat verantwoordelik was vir die voorbereiding en verspreiding van die betrokke kos om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.
Die ondersoek deur die betrokke omgewingsgesondheidsbeamptes sal verdere lig op die omstandighede rondom die voorval werp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’