Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Sportdag wat bedoel was om kinders uit die strate en uit die moeilikheid te hou, het die afgelope naweek geëindig met 33 kinders wat met vermoedelik simptome van voedselvergiftiging by die Oudtshoorn-hospitaal behandel is.
Die voorval het tydens 'n sportdag in Dassieweg plaasgevind, waar daar volgens die organiseerder, Gaywin van Rooyen, tussen 80 en 90 kinders deelgeneem het.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, het bevestig dat 33 kinders na die hospitaal geneem is. Slegs vyf is opgeneem en teen Dinsdagmiddag was daar nog net een kind in die hospitaal. Die res is reeds ontslaan.
Die Wes-Kaapse departement se omgewingsgesondheidsbeampte, tesame met 'n munisipale omgewingsgesondheidsbeampte, ondersoek tans die voorval.
Van Rooyen, 'n gemeenskapswerker in Bridgton, wat gereeld soortgelyke sportdae vir kinders in die gebied reël, sê dit was allermins die bedoeling dat iemand siek moes word. "Dit was glad nie ons bedoeling dat enigiemand siek raak nie en ons wou ook niemand skade aandoen nie."
Volgens Van Rooyen was die doel van die sportdag om kinders 'n veilige en positiewe alternatief te bied.
"Ons het netbal, sokker en ander inheemse speletjies aangebied. Daar was sprekers wat met die kinders oor veiligheid gepraat het en die kinders se gesiggies is geverf. Dit was eintlik 'n baie lekker dag."
Kos is ook aan die deelnemers voorsien, maar dit is juis hier waar die fokus van die ondersoek nou val. Van Rooyen sê die brijani is vars voorberei en nog dieselfde dag aan die kinders uitgedeel.
"Ons vermoed dat die hoender af was. Ons het reeds 'n verklaring by die polisie afgelê oor wat gebeur het en ons werk nou met die gesondheidsinspekteurs saam sodat ons kan uitvind presies wat fout gegaan het."
Hy sê dit was egter nie net kinders wat siek geword het nie.
"Ek en my gesin en ander volwasse vrywilligers het ook siek geword. Dit blyk egter dat die meeste kinders wat in Rosevalley woon, siek geword het."
Bosa bevestig finansiering
Die voorval het ook vrae laat ontstaan oor die politieke party Build One South Africa (Bosa) se betrokkenheid by die sportdag.
Chad Louw, voormalige burgemeester van Oudtshoorn en tegniese direkteur van Bosa, het bevestig dat die party die geleentheid gefinansier het.
"Ons is bewus van die bewerings. Ons is diep bekommerd oor die gerugte en neem die saak baie ernstig op. Ons werk tans daaraan om die feite vas te stel en ondersoek die omstandighede rondom die voorval. Ons grootste bekommernis is die kinders wat hierdeur geraak is," het Louw gesê.
Ondersoek moet bepaal wat fout gegaan het
Candice Biscombe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê die departement van gesondheid neem die saak ernstig op.
Volgens Biscombe geniet enige ondersoek wat deur die departement gedoen word, die munisipaliteit se volle steun.
Die departement van gesondheid sal die leiding in die ondersoek neem, met die munisipaliteit wat relevante inligting sal voorsien.
Burgemeester Jan van der Ross het Maandag die kinders wat steeds in die hospitaal was, besoek.
Vorige berigte:
- Oudtshoorn-kinders na bewering ná voedselvergiftiging in hospitaal opgeneem
- 33 kinders na Oudtshoorn-hospitaal geneem na vermoedelike voedselvergiftiging
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’