OUDTSHOORN NUUS - Samaritan's Feet, 'n Suid-Afrikaanse niewinsgewende organisasie, besoek Oudtshoorn hierdie week om kinders wat in armoede leef, te ondersteun.
Hulle was reeds Maandag 14 September by verskeie skole, waaronder De Jagers Primêr en Roodewal Primêr waar hulle die leerders se voete gewas het om die boodskap van omgee oor te dra. Elke kind het ook nuwe skoolskoene en -sokkies ontvang.
Die organisasie vorm deel van 'n internasionale humanitêre organisasie wat hom beywer om kinders in nood, wat nie oor voldoende skoene beskik nie, te ondersteun.
Meer as net skoene
Hoewel die verskaffing van skoene die kern van die organisasie se werk vorm, strek sy missie veel verder as om bloot 'n nuwe paar skoene aan 'n kind te gee.
Die fokus is op die herstel van waardigheid, die bou van betekenisvolle verhoudings en, bowenal, die skep van hoop.
Tydens skoenuitdeelings neem vrywilligers tyd om persoonlik met die kinders kontak te maak.
Die kinders se voete word gewas en versorg voordat hulle hul nuwe skoene ontvang. Dit bied aan vrywilligers 'n geleentheid om medelye, omgee en menswaardigheid te betoon.
Die organisasie glo dat positiewe fisieke en emosionele kontak 'n blywende invloed op kinders se lewens kan hê.
Vrywilligers gesels met die kinders, moedig hulle aan om in hul hoop en drome te glo en herinner hulle daaraan dat hulle waardevol is en dat hul lewens saak maak.
Missie
Samaritan's Feet sien hul werk as 'n vreugdevolle poging, gevul met hoop, wat daarop gerig is om na kinders se fisieke én emosionele welstand om te sien.
Die organisasie streef daarna om 'n blywende verskil in die lewens van kinders te maak en terselfdertyd ook die vrywilligers en vennote wat tot die organisasie se missie bydra, te inspireer en positief te beïnvloed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’