Update
OUDTSHOORN NUUS - Cathleen Hendricks, wat in April 2018 tydens ’n intelligensiegedrewe ondersoek deur die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek-eenheid in George in hegtenis geneem is, is onlangs in die Oudtshoorn-landdroshof tot vyf jaar direkte gevangenisstraf vir geldwassery gevonnis.
Volgens luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, het lede van die Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek-eenheid in George in April 2018 ’n gesamentlike intelligensiegedrewe operasie met die Attaqua-K9-eenheid uitgevoer nadat inligting oor beweerde dwelmaktiwiteite in Oudtshoorn ontvang is.
Die inligting dat een van die geïdentifiseerde verdagtes, wat intussen in 2022 oorlede is, na bewering R60 000 met ’n taxibestuurder na Gqeberha gestuur het om dwelms te koop, is opgevolg.
Met die taxi se terugkeer vanaf Gqeberha na Oudtshoorn het die polisie die voertuig gestop en deursoek.
R57 490 in kontant, asook 200 Mandrax-tablette, is na bewering in die voertuig gevind en die polisie het daarop beslag gelê.
Verdere ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat Hendricks glo ’n valse verklaring afgelê het waarin sy beweer het dat die kontant aan haar behoort.
Op 14 November 2025 het die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Kaapstad-afdeling, ’n finale verbeurdverklaringsbevel ten opsigte van die R57 490 kontant toegestaan.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’