OUDTSHOORN NUUS - Verskeie kinders is na bewering gisteraand, 13 September, na die Oudtshoorn-hospitaal geneem nadat hulle glo siek geword het ná die eet van kos wat in Bridgton uitgedeel is.
Volgens inligting wat deur Oudtshoorn Courant ontvang is, is daar na bewering briyani aan kinders in die gebied uitgedeel. Dit is egter nog nie duidelik hoeveel kinders moontlik geraak is nie.
Oudtshoorn Courant het navrae aan die betrokke rolspelers gerig en wag op verdere inligting oor die voorval.
Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) Oudtshoorn vanoggend, 14 September, ’n verklaring uitgereik waarin die party enige betrokkenheid by voedseluitdeling gister ontken.
“DA Oudtshoorn ontken enige betrokkenheid by die voedseluitdeling op 13 September. Die DA Oudtshoorn wil dit ten sterkste stel dat die party geensins enige voedsel van enige aard op Sondag 13 September uitgedeel het nie,” lui die verklaring.
Die DA doen ’n beroep op die persoon, organisasie of politieke party wat verantwoordelik was vir die voorbereiding en verspreiding van die betrokke briyani om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid daarvoor te aanvaar.
“Ons verstaan ten volle dat hierdie voorval groot kommer en angs onder ouers en families veroorsaak het. Dit is daarom uiters onverantwoordelik om die situasie vir politieke doeleindes te misbruik of om ongeverifieerde bewerings te versprei ten einde politieke punte aan te teken.
“Politieke verskille behoort nooit belangriker te wees as die veiligheid en welstand van ons kinders en ons gemeenskap nie. Die families wat deur hierdie voorval geraak is, verdien ons ondersteuning en respek, eerder as politieke propaganda en vingerwysing.”
Die DA het die kinders wat deur die voorval geraak is, ’n spoedige en volledige herstel toegewens.
“Ons vertrou verder dat diegene wat wel verantwoordelik was vir die voedselverspreiding, die regte ding sal doen deur verantwoordelikheid te aanvaar en die nodige samewerking te verleen om die omstandighede rondom die voorval behoorlik vas te stel.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’