OUDTSHOORN NUUS - Die Santa Shoebox-projek, een van Suid-Afrika se bekendste liefdadigheidsinisiatiewe vir kinders, doen ’n beroep op die Oudtshoorn-gemeenskap om vanjaar ’n verskil in die lewens van kinders te maak.
Die projek hoop om vanjaar vir 85 000 kinders landwyd, waaronder kinders in die Oudtshoorn-distrik, ’n spesiale Kersfeesboks te voorsien.
September is jaarliks een van die belangrikste maande op die Santa Shoebox-projek se kalender, wanneer mense regoor die land hande vat om vreugde aan kinders in hul eie gemeenskappe te bring.
Hoewel die projek landwyd reeds die 50%-kerf vir beloftes bereik het, is verskeie gebiede in die Kaap steeds agter. In Oudtshoorn is slegs 26% van die kinders tot dusver gekies.
Dit beteken dat ongeveer driekwart van die kinders in die Oudtshoorn-distrik, wie se name reeds op die lys is, steeds wag om deur ’n skenker gekies te word.
Elke boks word persoonlik vir ’n spesifieke kind saamgestel en bevat onder meer noodsaaklike skryfbehoeftes vir skool, higiëne produkte, speelgoed, boeke, lekkers en ’n nuwe kledingstuk in die kind se regte grootte.
Die Oudtshoorn-afhaalpunt is by die CJ Langenhoven-biblioteek in Voortrekkerweg, Oudtshoorn.
Volgens Deb Zelezniak, uitvoerende hoof van die Santa Shoebox-projek, is die organisasie dankbaar vir die bydrae van sy uitgebreide netwerk van skenkers en vrywilligers.
“Die Santa Shoebox-projek is een groot #BeautifulStory, bestaande uit meer as ’n miljoen en ’n half pragtige hoofstukke van gee en die ontvangs van vreugde sedert 2006. Met 70 afleweringspunte regoor die land, in elke provinsie, en duisende vrywilligers en skenkers wat die projek moontlik maak, is ons opreg dankbaar vir die gesamentlike impak van ons ongelooflike gemeenskap,” sê Zelezniak.
Wat is in ’n Santa Shoebox?
Elke tradisionele Santa Shoebox bevat agt voorgeskrewe items wat ’n belangrike rol in ’n kind se lewe speel: Seep, ’n waslap, tandepasta en ’n tandeborsel help om gesondheid en waardigheid te bevorder.Nuwe klere in die regte grootte bevorder ’n gevoel van trots en selfvertroue.
Ouderdomsgeskikte opvoedkundige benodigdhede help kinders om ten volle aan skoolaktiwiteite deel te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’