OUDTSHOORN NUUS - Hemelruim, ’n splinternuwe buitelug-musiekkonsert, word Saterdagaand, 10 Oktober, in Oudtshoorn aangebied.
Spoegwolf, Tasché en Oudtshoorn se eie Noemwoord deel die verhoog vir ’n woestyndisko onder die Klein-Karoo-sterre.
Hierdie konsert is ’n nuwe toevoeging tot die Klein-Karoo se gebeurteniskalender en beloof om ’n onvergeetlike aand te wees.
10 Oktober is ’n bedrywige dag in die Klein-Karoo, met besoekers van ver en wyd wat die oggend aan De Rust se Optimum Meiringspoort-halfmaraton deelneem.
Na ’n rustige middag van herstel, is Hemelruim die ideale geleentheid om die dag se aktiwiteite op ’n hoë noot af te sluit: Hardloop in die oggend, kom sing en dans in die aand.
Hemelruim vind plaas by die Oudtshoorn-sportterrein (Rec). Hekke maak om 17:00 oop, met die musiek wat vanaf 18:00 begin.
Soos die son begin sak begin die woestyndisko met die klanke van uiteenlopende musiek.
Spoegwolf, een van Suid-Afrika se gewildste Afrikaanse rockgroepe, bring hul kenmerkende energie en treffers na die verhoog.
Saam met Tasché se unieke stem en kontemporêre klank en Oudtshoorn se eie Noemwoord, wag ’n uitsonderlike aand op die gehoor.
- Kaartjies vir Hemelruim is aanlyn beskikbaar by Computicket, Checkers-, Shoprite- of Usave-winkels en die KKNK se kantoor in Oudtshoorn. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as op die dag by die hekke.
- Verversings is tydens die konsert beskikbaar met kroegfasiliteite en verskeie opsies vir eetgoed.
- Hemelruim word aangebied deur die KKNK.
Vir meer inligting, besoek hemelruim.co.za, stuur ’n e-pos na [email protected], skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Volgende jaar se KKNK word van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart 2027 in Oudtshoorn aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’