Die afgelope maand is watertekorte ervaar in die hoërliggende gedeeltes van Blomnek en De Rust. Sommige inwoners moes vir etlike dae aaneen self water aanry.
Die munisipaliteit het inwoners bygestaan deur watertenkers vanaf Oudtshoorn wat water aan gebiede in nood kon voorsien.
Volgens die woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, bied die Huisrivier voldoende water vir die wintermaande, maar dit is gedurende die somer dat inwoners swaar trek. Water word van `n nabygeleë grondeienaar aangekoop om hierdie tekorte aan te vul.
Dit is egter veral huishoudings wat hul tuine besproei wat die beskikbare watervoorraad onder druk plaas.
Die watervlak in die reservoir in De Rust bly dan te laag om konstant water na die hoërliggende reservoirs van Blomnek te pomp. Daar word reeds planne beraam om `n groter reservoir vir Blomnek aan te bou asook om alternatiewe waterbronne en waterpyplyne vir De Rust en Blomnek te verseker.
Volgens Mangqwengqwe is hierdie egter `n tydsame proses en alle waterverbruikers moet steeds spaarsamig te werk gaan. Mang-
qwengqwe het ook benadruk dat wetstoepassers streng sal optree teen enigeen wat die volgende sou oortreë:
- Tuine kan slegs besproei word tussen 08:00 en 10:00 en tussen 16:00 en 18:00 op alternatiewe dae, 3 dae per week.
- Eiendomme met gelyke straatnommers word toegelaat om te besproei tussen bogenoemde tye op Maandae, Woensdae en Vrydae.
- Eiendomme met ongelyke straatnommers word toegelaat om te besproei tussen bogenoemde tye op Dinsdae, Donderdae en Saterdae.