Update
CALITZDORP NUUS - 'n Vlaag honde-aanvalle en die Suid-Afrikaanse Polisiedienslede (SAPD) wat nie op klagtes reageer nie, word nou deur 'n hoër gesag aangespreek.
Oudtshoorn Courant het op 21 Oktober berig oor Isabella Davids van Calitzdorp wat erg deur 'n veghond aangeval is en byna haar lewe verloor het.
Die polisie wou glo nie haar klagte registreer nie, maar die saak word nou op provinsiale vlak ondersoek. Davids ontvang steeds mediese behandeling nadat vel van haar boude verkry moes word om oor haar kop te heg.
Provinsiale kommissaris, lt.genl. Yoliswa Matakata het soos volg op die klagtes gereageer: "Sommige lede van SAPD was van mening dat geen kriminele oortreding begaan is nie, omdat die hond nie deur die eienaar losgelaat is nie."
Matakata noem verder dat die Wet op 'Animal Matters Amendment', Wet 42 van 1993 stipuleer dat enige persoon wie se nalatigheid veroorsaak dat 'n dier/hond 'n persoon beseer, skuldig sal wees aan 'n oortreding en aanspreeklik gehou sal word en kan 'n boete of tronkstraf van tot twee jaar opgelê word.
Volgens Matakata kan nalatigheid beskou word as die aanhou van 'n hond waarvan die erf nie behoorlik omhein is nie asook die nalaat om hekke toe te maak.
Verskeie inwoners het nou 'n groter tevredenheid dat die SAPD alle klagtes sal ondersoek.
Vorige artikel: Veghond skeur jong ma byna uitmekaar
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'